Beswaardes wat ons put knaend leegdrink
2011-11-28 22:36
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
ONS almal is sterflinge wat spartel om te vlieg tot op die hoë kranse waar ons moet land.
Daarom behoort ons ’n hand onder ons mede-sterflinge se vlerke in te druk om hulle te onderskraag. Môre-oormôre druk hulle weer ’n hand onder ons swakke vlerke in.
Dit is vir my bitter om te sê, maar tog is daar sterflinge onder wie ek wens ek liefs nooit ’n hand ingedruk het nie.
Omdat hulle emosioneel meer van my eis as wat ek kan bied. Asof hulle my wese wil annekseer en versmoor.
Ons almal kan getuig van ’n buurvrou of familielid of iemand by die damesklub wat aan ons vasgesuig het, sonder respek vir ons grense, totdat ons later wou gil van ingehoktheid.
Die gryse het vir ons jaart ’n hek sonder klokkie laat aansit, sodat die keuse ons s’n is wie ons wil inlaat.
Eintlik is niemand onwelkom nie; dis net dat ’n besoeker soms op ’n slegte tyd opdaag.
’n Tyd gelede maak ’n vreemde vrou ’n afspraak vir ’n spesifieke dag.
Ek sê die enigste oop uur wat ek het, is 20:00 tot 21:00 die aand, in die hoop dat dit té laat is.
Ek waarsku haar dat ek in my pajamas sal wees, want teen 22:00 wil ek my lig afsit.
Twintig voor agt daag sy op met ’n bottel wyn. Sy drink en lê haar lewe uit.
Teen 21:00 lui my selfoonwekker, sodat sy kan besef dis looptyd.
Sy sit.
Gapend neem ek die koppies wasbak toe; stoot my stoel in. Sy ignoreer dit.
Elfuur begin die gryse ligte afsit, sluit die deure en sê nag. Sy brabbel en rook eenstryk. Haar sigarette is op en sy trek myne nader.
Ek bied nie nog koffie aan nie, maar sy maak sommer self. Twintig oor drie in die nag loop sy. Met die belofte dat sy weer kom; daar is nog baie wat sy my móét vertel.
Alleenmense stuur lang e-posse en as ek hoflik reageer, hou hulle net aan. Na die soveelste e-pos, elkeen bykans ’n kortverhaal, e-pos ek kripties: Blessings vir jou toekoms.
Helaas, binne ’n dag daag nóg ’n jammerverhaal op.
Nou weet ek nie of dit mý kop is wat boos is as dit kom by ’n hand uithou na my naaste nie.
En ek wonder of ander mense ook so raadop raak met mede-sterflinge wat hulle put knaend leegdrink, sonder om ’n druppel terug te gooi.
- Volksblad