As ouers deur hul kinders versaak word
2011-11-21 17:31
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
In September toe die jasmyn blom, sit hier ’n vrou by ons tafel. Sy huil hartverskeurend, want haar drie kinders het haar versaak.
Bel nooit. Stuur geen verjaardagkaartjie nie.
Haar oogappel het sonder haar wete met ’n volksvreemde vrou getrou. Sy het hom ses jaar laas vlugtig gesien; die ander tien jaar laas.
Sy sê sy verdien nie hul verwerping ná al die jare waarin sy hulle grootgesukkel het nie. Sy het hierheen gekom sodat ek haar moet help om ’n brief te skryf wat sy aan elkeen wil stuur.
Nee, sê ek, ek skryf nie sulke briewe nie; elke mens moet sy eie briewe skryf.
Sy huil harder en sê deur dungetrekte lippe dat sy al die pad van die platteland af gery het in die geloof dat ek haar sou help.
Toe weet ek: die vrou is ’n opperste manipuleerder. Ek kan my inprent hoe sy haar kinders regeer en emosioneel afpers.
Ek maak tee om haar te bedaar, en bring nog kookwater, want die tee is glo te sterk.
Foutvinderig. ’n Uur later is sy weg sonder ’n dankie vir mý tyd, of vir die tuisgebakte appeltert.
Sy wou ook nie hen-en-kuikenplantjies hê nie, want haar grond is glo vetterig en niks wil groei nie.
Kerstyd, ’n tyd van samesyn, is aan die kom.
Vir baie ouers is dit ’n eensame tyd.
Hul kinders stuur nie eens ’n papegaai-sms nie.
Hoe gebeur dit dat ’n ouer-kind-band tot niet gaan?
My oortuiging is dat sulke kinders nie alleen in die beskuldigdebank staan nie, want ’n kind versaak nie sy ouers oor niks nie.
Van ouerkant af is iets groots verkeerd.
As ’n kind ewigdeur “oorgeneem” word deur die bitterheid, prestasiegedrewendheid en verwyte van ’n ouer, sál die kind weghol op soek na sy eie staanplek.
In The Power of the Plus Factor sê Norman Vincent Peale: “Bekyk die probleem deeglik, en bekyk jouself deeglik.”
Miskien moet die alleenvrou met die spleetlippe groothartig genoeg wees om haar aandeel in die verbrokkeling te erken.
Sy moet haar eie pleitbriewe skryf, sonder verwyte of ou koeie; sonder om ’n argument te móét wen.
Buig die knieë.
Dan het sy gedoen wat sy kón, al is dit in ’n laat uur van haar lewe.
Dalk kom daar tóg eendag ’n Kersfees vol samesyn.
- Volksblad