As ’n swaeltjie in die kerk tjorts
2011-09-05 22:54
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
MET die dat ek Sondag vir Sondag by die orrel sit, sien ek heelwat komieklike insidente in die kerk afspeel.
En soos almal weet, is dit moeilik om ’n mens se lag in die kerk terug te sluk. Meestal oor onsinnighede waaroor ’n mens andersins glad nie sou lag nie.
Op ’n keer op Bedford moes ek uit die kerk vlug oor ’n laggery.
Daardie tyd kom die swartpak-ouderlinge nog in ’n statige prosessie ingestap tydens die laaste gelui. Sit ingeryg in die ouderlingsbanke. Toe ’n vliegende swaeltjie wat in die kerk vasgekeer is spattend op ’n waardige bleskop-ouderling van die Patryshoogte-wyk se kroontjie tjorts, skeur ek my.
Nie soseer oor die tjortsery nie, maar eerder oor die verbloemde manier waarop hy dit met sy wit sakdoek probeer opvee.
Klein veetjies, asof dit sweet is.
Later is hy besmeer tot op sy oorskulp en wenkbrou, en die groenerige besigheid raak droog.
Onlangs is basaartyd aan die kom by ons Patmoskerk. Op ’n Sondag met die aanvang van die diens kry die hoofvrou van die basaar ’n spreekbeurt om die gemeente te rat vir die basaar.
Haar blonde seuntjie hang aan haar; sy druk hom weg.
Ek kyk hoe skud die afgetrede oudominee wat die oggend preek sy kop waar hy op die gemakstoel neffens die preekstoel sit.
Seker dankbaar sy tyd van hangende tjinnertjies is verby.
Toe die kind besef sy ma se aandag is elders, gaan lê hy op die mat met sy speelgoedgeweer. Soos ’n wafferse skut lê hy aan op die ou-dominee. Korrel diékant toe, daaikant toe, opper.
Lyk of hy mik vir die voorkop.
Die oudominee trommel op die armleuning, min geamuseerd. Ek luister nie na die basaarpraatjies nie. Ek bekyk die predikant wat na die korrelende kind staar.
Die gemeente sien niks van die toneeltjie nie, want die kind lê weggesteek agter die voorste bank. Die kind haal oor en trek die sneller met ’n klap.
Was dit ’n regte koeël, was die oudominee daardie oggend hemel toe. Maar dié knip g’n oog nie; trommel net driftiger.
En hierdie waardige orrelis bars uit soos ’n perd wat proes. En die gemeente wis mos nie waaroor nie. Sware oggend, want kort-kort proes ek onbedaarlik.
’n Ewigheid terug hou ek skool op ’n plattelandse dorpie. Dis Junie-eksamen.
Die onderwysers wat nie toesig hou nie, koek in die personeelkamer saam. Erg huislike lot. Almal sit en vraestelle merk; eet broodjies, drink huissop uit flesse. Bak pannekoek op ’n blou gasstofie.
Meneer Johnny is die Afrikaans-meneer; hy is die oudste personeellid. Vreeslik onnutsig. In die stelwerkvraestel moet die kinders ’n gedig skryf oor een van die gegewe onderwerpe.
Wát die onderwerpe was, ontgaan my nou.
’n St. 7-seun dig toe oor “perd”.
Dramaties roep Meneer Johnny almal tot orde, staan op, maak keel skoon. Skuif sy swartraambril tot op die punt van sy neus. En lees die kreatiewe skepping voor met oordrewe stemtoon en meegaande gebare.
Die woorde het ek vergeet, maar elke vers eindig die kind met: my ou perd, met die lieflike stert. In ons verveeldheid begin almal versies bylas.
Ons breek ons.
Dit dawer uit die personeelkamer. My ou perd, wat eet aan ’n tert...ou perd, die luie nerd...My ou perd, hy lê en suip voor die vuurherd...My ou perd, hy runnik pure snert...
My ou perd, hy’s f*k*l meer werd.
Hoe belagliker en meer onritmies die rympies, hoe baldadiger skater ons. Nie hoe nie, toe staan die droë uintjie van ’n skoolhoof bakarm en blasend in die deur. Halfbles gewees. Swart hare waarin ’n menigte skilfers rondsit. Grótes. Jy kan dit lag-lag met ’n wyetand tafelvurk uitlig.
Ons verstok, want dis ’n man wat sidderend kan ontplof. Toe hy nou sy sê vingerswaaiend gesê het, en ons met die skoolkomitee gedreig het, stoom hy weg.
Toe Meneer Johnny dink die droë uintjie is buite hoorafstand, laat waai hy in ’n preekstoelstem: My ou perd, daar’s str**nt onder jou stert...
Dit was nie maklik nie. Nes dit nie maklik is om jou lag in die kerk op te hou nie.
En ewe moeilik, ontnugterend in der waarheid, om te besef dat twintig jaar sedertdien soos ’n asempie in die oggendwind verbygevlieg het.
- Volksblad