Waarom dan kerk toe gaan?
2012-01-20 21:50
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
MÔRE is die eredienste van die meeste gemeentes op hul volste: Die jeugprogramme begin, min lidmate is al op ’n wegbreeknaweek en baie mense het “gereelder kerkgang” as ’n Nuwejaarsvoorneme.
Kan ’n mens werklik daarby baat vind om vanjaar gereeld aan eredienste deel te neem? Kan ’n mens die Here nie by jou huis goed genoeg dankie sê en in die stilte van jou stoep die Bybel lees nie?
Dit is op sulke vrae dat die Nederlandse teoloog A.A. van Ruler in sy laaste boek, Waarom zou ik naar de kerk gaan?, 21 redes gee. Hy skryf dit vanuit sy eie gemis om eredienste te lei. Wanneer hy as ’n siek kerkganger ’n erediens kon bywoon, het hy in die ryk liturgie van die diens berusting gevind en ’n diepe ervaring van lewensbetekenis ontvang.
Daar word steeds waarderende kommentaar oor Van Ruler se bydrae geskryf – deur onder andere geloofsdenkers soos Jannie Richter en Christo Lombard.
Dat dié redes uit die 1960’s ons vandag help, is veral omdat ons in Suid-Afrika nou eers die felle kritiek op die kerk en die verdwyning van lidmate intens beleef.
Sommige redes handel oor die positiewe gevolge wat kerkgang vir ’n mens kan inhou. Soos om die lewe ten volle te beleef, om jou bestaan tot op die bodem te peil en om die arbeid van lofprysing te volbring.
Ander redes gaan om die voordeel wat dit vir die gemeente as “liggaam van Christus” het. Hieronder is: Om tot die lig te kom, om in die openbaar geloof te bely en om die kerklike jaar mee te maak.
Daar is ook redes wat fokus op die voordele wat kerkgang vir die gemeenskap as geheel het: Om weer op “toonhoogte” te kom, “wegwys” gemaak te word en die verlossing van die wêreld te vier.
Sal ons môre kerk toe gaan?
Nie net môre nie, maar gereeld.
Daar is meer in as wat ons dink.
- Volksblad