Verander nóú die kerkkultuur
2012-02-03 21:55
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
DIE woelinge in die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika hou waarskynlik verband met die politieke, ekonomiese en kulturele oorgangstyd wat ons beleef.
Ons ly veral aan die sterwe van volksgodsdiens (“civil religion”) waarin die Christelike lewenswyse met Westerse kultuurpatrone vereenselwig is.
Uit hoofstroomkerke, wat die swaarste getref word, meen leiers soos Anthony B. Robinson dat juis dié sterwe ons van selfvoldaanheid kan red.
Robinson pleit in Transforming Congregational Culture nie om enkele aanpassings nie (byvoorbeeld nuwe kerkliedere), maar ’n diepgaande kultuurverandering deur die herontdekking van ons identiteit en roeping:)Die bestaansrede vir die kerk is in die era van volksgodsdiens beskou as die verskaffing van ’n godsdienstige basis en wette aan die samelewing, hulp-verlening en sosialisering.
Ons moet weer ontdek dat ons ’n gemeenskap is wat heelmaking van God ontvang om die mense te kan wees wat God vir hierdie tyd nodig het.)Eredienste was in die era van volksgodsdiens ingerig om op ’n intellektuele wyse oor God te reflekteer (“information”).
Ons moet nou eerder ruimte skep dat God se Gees ons deur verhale en ontmoetings in ons hele menswees kan verander (“formation”).)Die bestuur van gemeentes het in die volksgodsdiens-era op demokratiese wyse plaasgevind om veral ouer lidmate met aansien en geld tevrede te hou.
Ons moet nou eerder in prosesse van onderskeiding fyn luister na dit wat werklik saakmaak. )Goeie gemeenteleiers is in die volksgodsdiens beskou as diegene wat op priesterlik-vertroostende wyse antwoorde oor alles kon gee.
Ons moet nou eerder staatmaak op leiers wat op profetiese wyse “Godsvrae” rig: Wat gaan aan? Waarom bestaan ons? Wat vra God vanjaar van ons? – André van Niekerk
- Volksblad