Toelaes is nie die antwoord
2012-01-31 22:01
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Die maatskaplike toelaes wat die regering aan amper 15 miljoen mense betaal, het ’n tweesnydende swaard geword.
Enersyds is dit ’n vangnet vir die heel armes. Die toelaes is nie groot nie.
Vir ’n pensioentrekker is dit R1 140 per maand en vir ’n kind R260, maar dit help hulle oorleef.
Andersyds is dit ’n onomstootlike feit dat die toelaes nie volhoubaar is nie.
Die aantal mense wat dit ontvang, word jaarliks meer. Dit neem ’n al hoe groter hap uit die begroting en beteken minder geld vir infrastruktuur en projekte wat werk skep.
In die afsienbare toekoms sal daar net nie genoeg geld vir die toelaes wees nie.
Die enigste uitweg vir die regering sal dan wees om nog geld te leen, wat baie gou tot groot rampspoed kan lei.
Om die toelaes te staak is nie ’n opsie nie. Dit sal ’n revolusie veroorsaak.
Maar die regering moet nou ’n perk op die toelaes plaas en oorambisieuse planne soos nasionale gesondheidsversekering laat vaar.
Daar is ander oplossings en antwoorde.
Goeie onderwys en opleiding kan werkloosheid verminder.
Die regering kan onderwys net nie op ’n aanvaarbare peil kry nie.
Die groot rede daarvoor is dat hy te bang is om Cosatu en sy Sadou-onderwysersvakbond te konfronteer.
Sadou se talle lui en onbevoegde onderwysers pleeg verraad teenoor die land se kinders.
Die regering het ook nie die durf om Cosatu oor arbeidswetgewing en minimum lone te pak nie. Dit kan onmiddellike verligting vir derduisende werkloses bring.
Daar was al absurde gevalle waar die regering fabrieke gesluit het wat nie minimum lone betaal het nie.
Laastens moet die regering ’n vriendelike klimaat skep wat dit vir maatskappye maklik en veilig maak om hier te belê.
Met die huidige nasionaliseringspraatjies sal enige maatskappy twee keer dink.
- Volksblad