Reis: Parlement stel nie ’n voorbeeld nie
2010-09-06 23:27
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Die parlement is veronderstel om op alle gebiede die toonbeeld te wees van uitnemendheid. Veral ook wat sy geldsake betref, behoort dit ’n voorbeeld aan die res van die land te stel.
Dis ongelukkig nie die geval nie.
Die jongste verslag van die ouditeur-generaal wys onreëlmatige uitgawes van amper R5?miljoen word ondersoek.
Dan was daar nog R12,6 miljoen se uitgawes wat as “vrugteloos en verkwistend” bestempel word. Dit spruit uit die reisskandaal in 2004 toe 31 parlementslede hulle skuldig gemaak het aan onreëlmatighede met reiskoepons.
Niemand is tronk toe nie en net ’n klein gedeelte is herwin, blyk uit die verslag.
Terwyl dié klad op die parlement se naam uit die verslag blyk, is daar baie vrae oor ’n beweerde nuwe reisskandaal.
Me Patricia de Lille, wat soos ’n terriër was om die wapen-skandaal bekend te laat word, moes weer lank sukkel om syfers van die parlement te kry.
Sy beweer die parlement word met meer as R1 miljoen gemelk deur sommige parlementslede wat eise indien om per motor te reis, wat veel duurder kos as om te vlieg. En baie meer tydrowend is.
Deur te ry en te eis, bring hulle persoonlik meer in die sak. Dat dit belastingbetalersgeld en werktyd is wat verspil word, skeel dié LP’s van die DA, ANC en OD oënskynlik min.
Soos gewoonlik is die verskoning dat die reëls van die parlement dit toelaat. Dit is dieselfde verwronge redenasie wat ministers aanwend om die aankoop van peperduur motors te regverdig – die ministeriële handboek maak mos daarvoor voorsiening.
Gewone mense voel egter daagliks die ekonomiese druk. Gesinne moet die gordel stywer trek, ondernemings herstruktureer en diegene wat geen begroting het om te sny nie, voel die hongerpyne erger.
Intussen vlam opstande ook op oor gebrekkige lewering.
Om staatsgeld te probeer spaar is onder dié omstandighede die morele keuse, maar dít lê in die oordeel van ons verkose verteenwoordigers, nié in die reëls van die parlement of die ministeriële handboek nie.
Dit is nou die taak van elke party wat geraak word om die saak te ondersoek en openbare teregwysings te rig aan elkeen wat onnodig geld verkwis het.
En De Lille, wie se OD pas nouer aansluiting met die DA gevind het, moet voortgaan met haar snuffelwerk om verkwisting teen te werk. Dis almal se plig.
- Volksblad