OG-verslag wys koppe moet rol
2012-01-19 22:39
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
’N Mens kan verstaan waarom die ouditeur-generaal se jongste verslag oor staatsdepartemente se geldsake so ’n koor van protes ontlok het.
Dit gaan die verstand te bowe dat tot R25,5 miljard van Suid-Afrikaners se belastinggeld eenvoudig net “vermors” is sonder dat enige belastingbetaler voordeel daaruit kon trek.
Die Vrystaat en Noord-Kaap word ongelukkig boonop uitgesonder weens die haglike stand van sake in dié twee provinsies. In die Vrystaat het provinsiale departemente en entiteite byna R1,2 miljard onregmatig bestee, en nog R81,4 miljoen sonder magtiging. Daarby het 42% van die tenders wat die provinsiale departemente toegeken het, aan staatsamptenare en hul familielede gegaan.
In die Noord-Kaap was 88% van die aankopeprosesse nie-mededingend of onbillik. Die provinsie is boonop net een van twee in die land waar geen departement in die boekjaar 2010-’11 ’n skoon oudit kon behaal nie.
Die gevolg van die OG se nuutste verslag is dat opposisiepartye, vakbonde en die sakesektor almal hul skok en teleurstelling uitgespreek het.
’n Mens hoop dat die kabinet dié week op hul bosberaad by Bela-Bela kennis daarvan neem, maar die moontlikheid is baie groter dat hulle ná die beraad die regte geluide sal maak, maar dat niks sal gebeur nie.
Sake is trouens voortdurend besig om te versleg en vanjaar was geen uitsondering nie.
Die oplossing is eenvoudig. Koppe moet rol en die regte kundiges moet aangestel word, maar daarvoor is diegene op die soustrein te diep ingegrawe.
Senior politici het eenvoudig nie die politieke wil om van mense ontslae te raak aan wie hulle gunsies skuld nie of om af te sien van die kaderbeleid om partylede met senior poste te beloon.
En dan is daar die ideologie van regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging, waaroor daar in dié stadium nie onderhandel word nie.
Dit is bemoedigend dat die tesourie, die een funksionele departement in die staatsdiens, ingryp en die beheer van sommige provinsiale departemente oorgeneem het, maar sy vermoë is beperk.
En intussen ly die land daaronder.
Arm mense moet sonder huise, water en riolering klaarkom en infrastruktuur is besig om te verval.
En dit is nie net vakbonde en sakelui wat kla nie, armes gooi klippe in hul woonbuurte, rykes weerhou belasting en baie vat die pad Australië toe.
Dit het tyd geword dat mense ’n duidelike boodskap aan die ANC stuur.
Nie met klippe en brandende bande nie, maar by die stembus.
- Volksblad