Nie só nie, Mapoe
2010-09-07 20:41
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Dis jammer dat dit vir die Vrystaat-Cheetahs-maatskappy nodig is om hom tot regstappe te wend om te probeer verseker dat ’n belowende jong vleuel soos Lionel Mapoe sy kontraktuele verpligtinge in dié provinsie nakom.
Mapoe doen sy eie loopbaan skade aan deur steeds saam met die Haaie te oefen.
Dit ondanks die bevel van ’n arbiter, adv. Bertus van Rhyn, op 11 Augustus om hom dadelik in Bloemfontein vir Curriebeker-verpligtinge aan te meld.
As Mapoe dalk deur andere geadviseer word om só op te tree, sal hy vir homself moet oordeel wie se belange deur dié soort optrede gedien word – beslis nie sy eie nie.
Juis met die oog op ’n moontlike verdere loopbaan in die Springbokspan, waar staatmakers soos Bryan Habana tans erg van stryk af is, moet Mapoe wys hy kan iets soos ’n kontrak met ’n werkgewer respekteer.
Dis daar as iemand se woord nie sy eer is nie.
- Volksblad