Limpopo-pad nodig in VS, NK
2012-01-22 21:55
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
GRYP in die Vrystaatse en Noord-Kaapse provinsiale regerings ook in waar onderskeidelik 33% en 47% van staatsinstellings die afgelope jaar gekwalifiseerde ouditmenings ontvang het.
Stroop ook dié twee provinsies van hul uitvoerende gesag, neem die administrasie oor en ruk dit reg. En stel spesiale howe in om op te tree teen diegene wat vir die finansiële gemors en vergrype aanspreeklik is.
Dié onomwonde standpunt van Volksblad volg op verlede week se ingryping op die hoogste vlak in Limpopo waar ’n groep nasionale ministers, onder die leierskap van mnr. Pravin Gordhan, minister van finansies, die provinsiale regering van sy uitvoerende gesag ontneem het en die provinsie onder administrasie, onder leiding van die tesourie, geplaas is.
In ’n ongewone voorbeeld van staatsmanskap deur ’n ANC-leier het Gordhan ook die inwerkingstelling van spesiale howe, byna soos tydens 2010 se Wêreldbeker-sokkertoernooi, aangekondig.
Dié versugting om ingryping blyk duidelik uit briewe van lesers vandag. Hulle besef al aanvaarbare norm is ’n 100% skoon rekord van ouditmenings.
Dít staan teenoor die huidige haglike stand van sake in ons twee provinsies, waarvoor hulle in die OG-verslag uitgesonder word. In die Vrystaat het provinsiale departemente en entiteite byna R1,2 miljard onregmatig bestee, en nog R81,4 miljoen sonder magtiging. Daarby het 42% van die tenders wat die provinsiale departemente toegeken het, aan staatsamptenare en hul familielede gegaan.
In die Noord-Kaap was 88% van die aankopeprosesse nie-mededingend of onbillik. Die provinsie is boonop net een van twee in die land waar geen departement in die boekjaar 2010-’11 ’n skoon oudit kon behaal nie.
Só kan ’n mens aangaan om skokfeite uit te ryg. Ongelukkig blyk die ingesteldheid van die Vrystaatse en Noord-Kaapse ANC-heersers dieselfde as diegene in Limpopo s’n te wees.
Naamlik dat daar geen krisis is nie, net “finansiële uitdagings”. Pleks van aanspreeklikheid, skuil diegene in gesagsposisies eerder agter ontkenning – ook van verantwoordbaarheid aan die “mense”, onder meer deur die media.
Volksblad se versoek is dat minister Gordhan en andere ook onverwyld soortgelyke ingryping as in Limpopo in die Vrystaat en Noord-Kaap aankondig. Sodat gered kan word wat te redde is.
- Volksblad