Inligtingswet gaan ons demokrasie smoor
2010-07-29 21:46
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Enigeen wat ’n mate van gerusstelling vind in die versekering van die staat se hoofregsadviseur dat die voorgestelde Wet op die Beskerming van Inligting grondwetlik is, begaan ’n groot fout.
Want mnr. Enver Daniels is nie ’n onpartydige staatsamptenaar soos wat hy behoort te wees nie.
Hy is ’n ANC-kader wat in die pos ontplooi is en na die ANC se pype dans.
Sy versekerings is van nul en gener waarde.
Die ANC se aanslag op spraakvryheid kom van twee fronte af.
Eerstens is dit die Wet op die Beskerming van Inligting wat die ANC blykbaar vasbeslote is om deur te druk, al was daar kritiek van organisasies aan ’n breë front.
Van die organisasies wat besware teen die voorgestelde wet het, is mediagroepe, die Instituut vir ’n Demokratiese Suid-Afrika (Idasa), die Instituut vir Sekerheidstudie (ISS), die Sentrum vir Grondwetlike Regte en selfs Cosatu, ’n ANC-bondgenoot.
Die organisasies is dit eens dat die wet onversoenbaar met demokratiese waardes is. Luidens die voorgestelde wet is daar wye en vae begrippe waarvolgens inligting as van nasionale belang geklassifiseer kan word.
Die wet maak ook geen voorsiening vir openbare belang nie.
Swaar tronkstrawwe kan opgelê word aan joernaliste wat sensitiewe inligting bekend maak.
Tweedens is daar die ANC se mediatribunaal. Dié tribunaal sal deur die staat gereguleer word en moet “behoorlike toesig” oor die media hou.
Dit sal Suid-Afrika na die donker dae van sensuur terugneem. Dit kan ’n gevaarlike instrument in die ANC se hande wees om te keer dat die media hul werk ordentlik doen.
Die media en die organisasies wat besware teen die wet en die tribunaal het, weet dat regte nie onbeperk is nie.
Regte bring ook verantwoordelikhede mee en het beperkings. Maar die ANC gaan met die wet en die tribunaal heeltemal te ver.
Die party gaan daarmee die suurstof uit ons ontwikkelende demokrasie haal en dit doodsmoor.
- Volksblad