Hervorm Afrika vir Zuma-ideaal
2012-01-17 22:47
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
IN sy toespraak voor die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies het pres. Jacob Zuma verlede week ’n paar prikkelende punte gemaak.
Sy toespraak is des te belangriker noudat Suid-Afrika die roterende voorsitterskap beklee. Zuma het die baie geldige stelling gemaak dat Afrika nie, soos in die Koue Oorlog, by wyse van spreke die grasveld moet vorm waarop die olifante van buite met mekaar baklei nie.
Hou die konflikte in Afrika bestuurbaar deur buite-invloede af te weer, het hy gepleit.
Om dié strewe te bevorder het hy voorgestel dat die betrekkinge tussen die Veiligheidsraad en die Afrika-Unie (AU) “geïnstitusionaliseer” moet word.
Met ander woorde, daar moet ’n vaste skakelliggaam kom om optredes te koördineer.
Hy het ook daarvoor gepleit dat die twee nie op mekaar se terrein oortree nie. Wat beteken dat die Veiligheidsraad nie onnodig in Afrika moet ingryp nie, maar eers die AU die kans moet gee om ’n probleem self op te los. Op sigself is dit ’n heel logiese standpunt, wat, terloops, al in die jare tagtig met oorgawe deur die destydse minister van buitelandse sake, mnr. Pik Botha, bepleit is. Wanneer kragte van buite Afrika vir sy eie magstrewe uitbuit, kan dit die vasteland slegs benadeel.
Dit is presies wat in die Koue Oorlog gebeur het, toe die vrye Weste en die Oosblok mekaar in Afrika aan die keel gegryp het. Ironies genoeg, die ANC het self kliphard daartoe bygedra.
Zuma se strewe sal moeilik uitvoerbaar wees, veral omdat die inmenging van buite soms newelig is. Wanneer Islamitiese fundamentaliste in, sê maar, Noord-Afrika en Somalië hulp uit Iran of Pakistan kry, is dit byvoorbeeld hulp van buite, maar dit sal bars gaan om dit vas te vat.
In ’n sekere sin beweeg China se groeiende ekonomiese rol ook in die rigting van onbehoorlike inmenging.
Solank Afrika ’n magsvakuum vorm, sal ander altyd in die verleiding wees om misbruik van hom te maak.
En dit beteken dat ’n hervormde Afrika die sekerste manier is om Zuma se ideaal te bereik. Wat weer vereis dat die vasteland selfonderhoudend moet raak.
Solank hy na die res van die wêreld kyk vir “ontwikkelingshulp”, kan hy nie hierdie lande bra inkomkans weier nie. Wat weer aan hulle ’n vastrapplek gee om hul eie belange hier uit te brei.
Op pres. Jacob Zuma se “staatsbanket” vir Afrika-leiers ten tye van die ANC-eeufees in Bloemfontein, is groot gewag gemaak daarvan dat geen Afrika-land nou meer onder die “koloniale juk” is nie.
Die vasteland se nuwe stryd is nou vir die bevryding van sy mense van armoede en van MIV/vigs.
Alvorens dit nie gebeur nie, gaan Zuma se ideaal nie verwesenlik word nie.
- Volksblad