Gebruik SANW net in nood
2012-01-29 21:31
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
DIS nie om dowe neute dat daar in die Grondwet streng voorskrifte is vir die aanwending van die weermag nie.
Oor die wêreld heen, en baie dikwels in Afrika, is daar staatshoofde of klein groepe wat ’n weermag misbruik om aan die bewind te bly of burgerlikes te terroriseer.
Toe Suid-Afrika se Grondwet geskryf is, was die wyse waarop die vorige bedeling die weermag misbruik het nog vars in die geheue.
Onder wyle oudpres. P.W. Botha het Suid-Afrikaners net een oggend wakker geword en gehoor hul seuns veg duisende kilometer hiervandaan in die buitewyke van Luanda in Angola. Hy het die weermag ook in townships teen ander Suid-Afrikaners gebruik.
Daarom is dit onvergeeflik dat pres. Jacob Zuma en sy generaals die weermag skynbaar op ’n ongeërgde manier gebruik sonder om aan die voorskrifte van die Grondwet te voldoen.
Zuma het die weermag verlede jaar drie keer ontplooi sonder om die parlement betyds daaroor in te lig.
In twee van die gevalle – oor die feestyd en met COP17 – is die weermag gebruik om die polisie by te staan.
In beginsel mag die weermag die polisie bystaan, maar dan móét Zuma die korrekte proses volg.
In albei die gevalle het Zuma die parlement eers weke nadat die ontplooiing begin is per brief daarvan ingelig.
Zuma is verplig om die parlement onverwyld in te lig en wanneer die parlement nie sit nie, die verantwoordelike komitee binne sewe dae.
Dit is nie ’n klein oortreding of ’n ligte mistykie nie. Dit druis teen die grein van ’n grondwetlike demokrasie in.
Boonop moet dit net in uitsonderlike gevalle gebeur. Die polisie word opgelei om die minimum geweld te gebruik, terwyl die weermag maksimum geweld gebruik.
Ondeurdagte gebruik van die weermag onder burgerlikes kan maklik ’n resep vir ’n ramp wees.
- Volksblad