Die mens net ’n bietjie minder as Elohim gemaak!
2012-01-27 22:22
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
DIE Bybelvertalers in Afrikaans het, soos ook sommige ander vertalings, nie kans gesien vir wat daar in Psalm 8:6 staan nie.
Daar staan: Wat is die mens dan...U het hom ’n bietjie minder as ’n hemelse wese gemaak.
Maar dit is nie wat daar in die oorspronklike Hebreeus staan nie. Daar staan: U het hom ’n bietjie minder as elohim gemaak.
Elohim is dié God van Wie ons in Genesis 1:1 lees: In die begin het Elohim die hemel en die aarde geskape.
In Genesis 1:26 staan dat God die mens na Sy beeld en gelykenis gemaak het.
Die mens moes Sy verteenwoordiger wees.
Die mens moes God se teenwoordigheid sigbaar maak in die wêreld.
Die mens moes God se gesag, Sy heerskappy oor alles op aarde uitoefen.
Maar toe die groot hartseer: die mens wou nie sóós God wees nie; hy wou self God wees! En so verloor hy sy God; word hy vyand van God.
Toe stuur hierdie God sy Seun om die verlore mens te soek en met Hom te versoen.
Jesus word mens in ons plek en Hy word die deur na die God toe, en ons mag deur hierdie deur en saam met Jesus na God toe gaan!
My lewe is saam met Christus verborge in God en ek gaan saam met Hom in heerlikheid verskyn (Kol.3:3).
Ons kan nuut begin: Lewe nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper (Elohim) en tot die volle kennis van God (Kol. 3:10).
Dit kan ek regkry as ek ook, soos Paulus, kan sê: Ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my (Gal. 2:19). Ek hoef maar net Christus uit te lewe en Sy beeld verskyn ál meer in my.
En Psalm 8:6?
Dit kan so wees! – Johan Lombaard
- Volksblad