Vermeende verkragter het glo vigs
2012-02-17 22:14
UPINGTON. – Die vermeende verkragter van ses minderjarige meisies van die Laerskool Blaauwskop op Kanoneiland word nou van poging tot moord op die kinders aangekla omdat hy vigs het.
Dié man (38) het gister weer in die hof op Keimoes verskyn, dié keer op vyf aanklagte van poging tot moord, vyf van verkragting en een van poging tot verkragting. Die eerste vyf aanklagte is gister bygevoeg nadat die hof bevestig het dat die man se MIV-status bekend is en dat hy MIV-positief is.
Die man het steeds nie gepleit nie en daarom kan sy identiteit nie bekend gemaak word nie. Hy het gister aansoek gedoen dat ’n private prokureur van Upington aangestel word vir sy verdediging.
Die meisies is tussen die ouderdomme van 11 en 14 jaar. Hul name word weerhou omdat hulle minderjarig en die slagoffers van ’n seksuele misdryf is.
Uit protes teen die moontlikheid dat die vermeende verkragter gister sou aansoek doen om borgtog, het die onderwysers en leerlinge van die Laerskool Blaauwskop ’n optog deur die strate van Keimoes gehou. Oor ’n luidspreker is die departement van justisie versoek “om verkragters toe te sluit totdat hul lyke eendag uit hul selle gedra moet word.”
Emosies het hoog geloop, maar die optog was vreedsaam.
“O, die kindergesiggies, soos die sterre se liggies...” het liedere tot binne die hof opgeklink.
Die staatsaanklaer, mev. Ilse-Marie Rossouw, het ’n verdaging van die hof gevra om ’n versoekskrif van die gemeenskap te ontvang. Rossouw het die leerlinge en gemeenskap verseker dat die beskuldigde nie vrygelaat sou word nie.
’n Ma van een van die meisies het verlede Maandag onraad vermoed toe haar dogter vreemd opgetree het. “Sy het my gevloek en ek kon sien my kind is nie haar ou self nie,” sê dié vrou wie se identiteit weerhou word ter beskerming van haar minderjarige dogter.
Sy het die meisie na ’n kliniek op Kanoneiland geneem waar die suster aan diens vasgestel het die meisie het ’n seksueel oordraagbare siekte.
Die meisie (11) het aan die suster erken wat gebeur het.
Dit het aan die lig gekom dat altesaam ses meisies, almal maats, deur die beskuldigde na sy huiswinkel gelok is. Hy het hulle glo daar verkrag en elk R5 betaal en met lekkers beloon.
Ao. Marius Struwig van die afdeling teen gesinsgeweld en seksuele misdrywe en vir kinderbeskerming, het die vermeende kinderverkragter Woensdagoggend in hegtenis geneem nadat al ses meisies na vore gekom en verklarings afgelê het.
Die verhoor is uitgestel tot 6 Maart vir ’n borgtogaansoek.
- Volksblad