Sol Plaatje se begroting ’n groot uitdaging
2012-02-22 22:28
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
KIMBERLEY. – Die uitdagings wat ’n aanvullende begroting vir die Sol Plaatje-munisipaliteit genoodsaak het, is grootliks te wyte aan ongemagtigde aanstellings, uitermatige oortydbetalings, kontrakwerkers wat in diens bly, agterstallige regeringskuld en onderhoud, asook meer behuisingsprojekte.
Me. Zuziwe Mhloko, finansiële hoof van die munisipaliteit, het dié begroting gister aan die raad voorgelê. Dit moet op 28 Februarie goedgekeur word alvorens dit in werking kan tree.
Die uitdagings vir die munisipaliteit is veelvoudig.
“Die aflewering van nuwe voertuie is vertraag. Die herstel van oorde ná verlede jaar se vloed vorder traag. Behuisingspojekte het vermeerder. Die huur van afvalverwyderingsvoertuie kos duur. “Personeelaanstellings in die uitvoerende burgemeester en speaker se kantoor het R8miljoen beloop.
“Sowat R18miljoen moet op na-aftrede-gesondheidsvoordele bestee word. Die onderhoud op paaie vereis ’n bykomende R3miljoen. Daarby is daar ook nog uitstaande skuld en die waardevermindering van bates.
“Die stad het ook geld verloor nadat die raad besluit het om heraansluitingsfooie te verminder,” sê Mhloko.
“Ons verwag bykomende inkomste. Die R11miljoen aan dienskoste vir voorafbetaalde elektrisiteit is nog nie ingereken by verkope nie.
Waterverkope het gedurende die somer gestyg.
Die munisipaliteit verdien ook rente op beleggings (R1,5miljoen) en geld met erfverkope en verhoogde dienstariewe (R14miljoen).
“Ons voorsien dat eiendomsbelasting sal vermeerder na die aanpassing op die eiendomsbelasting van die psigiatriese hospitaal,” sê sy.
- Volksblad