Lui amptenare skerp berispe
2012-02-22 22:28
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
KIMBERLEY. – Die uitvoerende burgemeester en die ANC-hoofsweep het gister in die spesiale raadsvergadering van die Sol Plaatje-munisipaliteit gedreig dat lui amptenare uitgeskop gaan word.
Amptenare in die vergadering is uitgesonder en geroskam oor swak prestasie.
In haar toespraak voordat die aanvullende begroting voorgelê is, het die burgemeester, me. Agnes Ntlangula, gesê die munisipaliteit se boude gaan by sy broek uithang as die broek nie korrek gelap word nie.
“Ek en my mede-raadslede was vanoggend by ’n plek waar ’n sementpyp met plastiek geheg is. Hoe lank gaan dit hou? Die waterdruk sal die plastiek in ’n duisend stukke laat bars.
“Teikens vir dienslewering word selde bereik en die begroting word oorskry as gevolg van swak werk. Ons kan nie agter langsame aankooprosedures skuil as ’n verskoning om nie doelwitte te bereik nie. Ons moet betyds en ordentlik beplan. Almal weet dit duur ses maande om ’n projek te beplan en die tender uit te reik. Dienslewering ly onder luiheid,” het sy gesê.
Die hoofsweep, mnr. Mangaliso Matika, het een van die teenwoordige amptenare, mnr. Khuza Bogacwi (direkteur van gemeenskapsdienste), uitgesonder en gesê hy moet sy sokkies optrek. Dié se kop en lyf het regop geruk toe hy in die openbaar geroskam is. (Bogacwi is ook vroeër deur die burgemeester berispe omdat hy onderlangs gepraat het terwyl sy haar toespraak gelewer het.)
Matika het Bogacwi goed ingeklim: “Ek het op ’n geleentheid vier keer probeer om jou in die hande te kry om ’n probleem op te los. Jou foon was die heeltyd afgeskakel. Wat help dit?
“Direkteure moet ophou om te dink hulle is verhewe bo onervare raadslede. Ons hou nie van jul houding nie. As julle nie vinnig verbeter nie, sal julle die munisipaliteit moet verlaat,” het Matika gesê.
Mnr. Willem Doman, DA-koukusleier, sê hy verwelkom die burgemeester en hoofsweep se opmerkings.
“Dit is hoogtyd dat ons ons stemme dik maak. Daar is min dienslewering en amptenare moet verantwoordelik wees.
“Dit is egter interessant dat Bogacwi se aanstelling deur die ANC deurgedruk is. Ons het dié politieke aanstelling teengestaan. Dit is bekend dat hy al voorheen gevra is om die munisipaliteit te verlaat. Nou het die ANC hom weer aangestel, maar kla oor sy werk. Dis vreemd. Hulle moet eintlik verantwoordelikheid daarvoor aanvaar,” sê Doman.
- Volksblad