Kinders verdrink
2011-08-28 22:48
UPINGTON. – ’n Derde watertreurspel binne net ’n maand het dié dorp die naweek getref toe ’n vierjarige kleuter en haar sewejarige boetie albei in die kanaal net buite Upington verdrink het.
Die twee was hul ouers, mnr. Mowen en mev. Maria Lubbe, se enigste kinders.
Klein Marsha Lubbe het water uit die kanaal by Leseding net buite Upington gedrink toe sy ingeval het. Haar boetie, Romeo, het agterna gespring, maar albei is deur die sterk stroom water meegesleur.
Vir hul ouma, mev. Berdien Kordom, is hul dood ’n tragiese herinnering aan toe haar seun, Roman (toe tien jaar oud), op 20 November 2008 in dieselfde kanaal verdrink het.
Lede van die polisie se duikspan op Upington het die kinders se lykies Saterdag omstreeks 09:00 uit die kanaal gehaal nadat hulle Vrydagmiddag in die water beland het.
Die Lubbe-egpaar was gister op Keimoes om die tragiese nuus aan familie daar oor te dra. Hul selfoon was afgeskakel en hulle kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Familielede by die gesin se huis, in die brandarm Leseding-nedersetting sowat 10km van Upington kort voor Louisvale, het gister hartseer vertel die kinders was baie lief vir mekaar.
Kordom het met traangevulde oë vertel dit is die tweede keer in drie jaar wat die kanaal kinders van haar eis – eers haar eie seun en nou haar kleinkinders.
Sy is mev. Lubbe se ma.
Marsha, haar boetie en nog twee maats was Vrydag langs die kanaal toe Marsha wou water drink, het een van die maats aan die familie vertel.
Dié vier het maar altyd saamgeloop.
Sy het ingeval en Romeo het dadelik ingespring om haar te help.
Nie een van die twee kon swem nie en die sterk stroom water het hulle meegesleur. Die kanaal is besonder diep in dié gedeelte en was boonop baie vol.
Die voorval was Vrydag tussen 15:00 en 16:00. Die maatjies het Leseding toe gehardloop om hulp te ontbied.
Kapt. Jacques September, woordvoerder van die polisie op Upington, het gesê die duikspan het hul lykies sowat 15km van waar hulle in die water beland het, gekry.
Ashley Andrews (15) en Lizelle Draaier (16) het vier weke gelede verdrink nadat hulle van die voetgangerbrug oor die Oranjerivier by Upington gespring het. Hul lyke is 11 dae later uit die rivier gehaal.
Net ’n dag daarna het mnr. Gerrit Steenkamp (39) van Loeriesfontein ook verdrink toe hy van dieselfde brug afgespring het.
- Volksblad