Geloof en integriteit kenmerk nuutste benoemde
2012-02-21 22:26
UPINGTON. – Die nuutste benoemde in Volksblad en Kumba Iron Ore se Noord-Kapenaar van die Jaar-kompetisie word beskryf as ’n sensitiewe man met geloof en integriteit, ’n leier in sy gemeenskap en ’n uithalersanger in kerkkore.
Die benoemings is besig om stadig maar seker in te kom vir die projek, wat aangebied word in samewerking met GWK, Diamond Pavilion Shopping Mall en Kalahari Gholf en Jag.
’n Instansie van die Jaar gaan ook vanjaar aangewys word.
Mnr. Anthony Malan van Kimberley word beskryf as ’n man wat omgee vir sy medemens.
Hy is die eienaar van Thusho’s Begrafnisondernemers, wat hy in 2005 begin het.
Malan, wat eers in Johannesburg gewoon het, vertel dat hy ’n visie gehad het wat hy nagejaag het.
Hy is deur iemand uit sy verlede gemotiveer om sy doelwitte na te streef.
Hy is na Kimberley verplaas en het die onderneming se deure in 2005 geopen.
Malan, wat sukses met sy onderneming behaal het en bekend is daarvoor dat hy help in tye van nood, het besluit om terug te gee aan die gemeenskap.
Vandag is hy ’n weldoener vir sy mense, en onder meer betrokke by ’n projek om kinders van die strate te kry.
Hy neem byvoorbeeld ouer tienerkinders in diens en gee vir hulle werkies om te verrig. Tans gee hy twee seuns opleiding in die bedryf sodat hulle ook ’n toekoms kan hê.
Verder is hy ’n aktiewe lidmaat van die Lutherse kerk St. George. Hy is onder meer ’n leier van die Lutherse kerk se massakoor en sing in die gemeentekoor.
“Hy is lief vir sy kerk en sy mense,” sê mnr. Melvin Julius. “Hy motiveer die kinders en verleen ’n helpende hand aan dié wat dit benodig.”
Julius sê Malan is ’n treffende voorbeeld en rolmodel vir ander mense.
Veral sy vermoë om persoonlike struikelblokke uit sy verlede te oorbrug, is ’n voorbeeld vir mense wat voorheen wou moed opgee.
• Vanweë die gewildheid van die projek word tafels vir die gala-aand op 12 April in die Horseshoe Motel in Kimberley te koop aangebied. Die kleredrag is formeel en die geleentheid begin 18:30 vir 19:00.
Instansies wat tafels teen R1700 (vir tien mense) wil koop, kan kontak maak met Ilse Botha by 051-404-7782 in kantoorure, of andersins ’n e-pos stuur aan ilse.botha@volksblad.com.
• Om kandidate as Noord-Kapenaar van die Jaar of Noord-Kaapse Instansie van die Jaar te benoem, stuur ’n motivering (300 woorde) vir jou kandidaat aan noordkaap@volksblad.com.
Verstrek asseblief ook jou naam en telefoonnommer, asook die benoemde se naam en telefoonnommer.
Die sluitingsdatum is 23 Maart om 17:00.
- Volksblad