Brandweerwa laat; vlamme verwoes huis
2012-02-21 22:26
KURUMAN. – ’n Brand wat eergisteraand in die motorhuis van ’n huis in Hoofstraat begin het, het ’n sesslaapkamerhuis in puin gelê.
Slegs die een slaapkamer en twee van die buitekamers het oorgebly nadat die brandweer opgedaag het, maar nie water gehad het nie.
Mnr. Z. Oates sê hy was in die badkamer toe hy hoor hoe mense skree daar is ’n brand in sy huis.
’n Buurvrou oorkant die straat en een van die bure langsaan het die brandweer ontbied.
Hy het die raad van ’n polisieman gevolg en eerste sy Land Rover en Mercedes-Benz na veiligheid gebring.
Die munisipaliteit se brandweerbakkie het opgedaag, maar het weer gery om maar eerder die brandweerwa te gaan kry.
Intussen het Oates en ’n buurman moedig met tuinslange teen die vlamme probeer veg.
Die vreugde was groot toe die brandweer opdaag, maar dit het toe nie water gehad nie. Die brandkraan op die sypaadjie was ook kurkdroog. Oates het padwerkers gevra om met hul watertenker te help.
Dié water was egter ook gou op en die Oats-gesin se besittings is alle verwoes voordat die munisipaliteit se groot, nuwe brandweerwa opgedaag het.
- Volksblad