‘Baie goeie nuus vir NK’
2012-02-10 22:04
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
KIMBERLEY. – Die nuus dat R300miljoen opsy gesit word vir voorbereidings vir ’n universiteit in die Noord-Kaap en Mpumalanga, is gister wyd in die Noord-Kaap verwelkom.
Pres. Jacob Zuma het Donderdagaand in sy staatsrede dié aankondiging gedoen.
Dit beteken planne vir die universiteit in die provinsie gaan voort.
Mev. Sharon Steyn, uitvoerende hoof van die Noord-Kaapse Kamer vir KoophandelenIndustrie(Nokki), sê dit is uitstekende nuus vir die Noord-Kaap en Kimberley.
Sy sê Nokki veg al lank vir die universiteit om dit in Kimberley te kry.
Sakeondernemings sal groot voordeel trek deur die studente wat hierheen sal kom. Dit sal die provinsie ook in staat stel om sy mense te behou.
Op die oomblik gaan jong mense weg om in ander provinsies te studeer.
Steyn sê sy hoop dat dit ’n volwaardige universiteit sal wees, en nie net ’n verlengstuk van ’n ander universiteit nie.
Mev. Lesley Nugent, uitvoerende hoof van Nokki Upington, het gesê sy is baie bly oor die aankondiging.
Op ’n vergadering Donderdagaand op dié dorp het alle sektore hul steun toegesê aan ’n veldtog om die universiteit op Upington gevestig te kry.
Colesberg is die derde plek waar inwoners hulle beywer om die kampus daar te kry.
Dr. Allan Grootboom, DA-woordvoerder oor onderwys, het ook die aankondiging verwelkom en gesê dit sal die opeenhoping by ander universiteite verlig.
Dit is tyd dat die regering vinniger beweeg na die doelwat van ’n Noord-Kaapse universiteit.
Dit is belangrik dat die regte mense gekry word om die grondwerk vir die universiteit te doen.
Me. Bella Matthys, Cope-woordvoerder oor onderwys, het gesê die party hoop dat die universiteit ’n ekonomiese inspuiting en dryfveer vir akademiese sukses op skool sal word.
Die party is egter bekommerd oor die provinsiale onderwysdepartement se gereedheid om ’n universiteit van wêreldgehalte op die been te bring, en sal alle prosesse met ’n valkoog dophou.
Daar heers by talle Noord-Kaapse leerlinge ’n bietjie wanhoop oor die toekoms, omdat hul ouers nie die koste van reis en verblyf vir ander universiteite kan bekostig nie.
’n Universiteit op eie bodem sal ’n kans op groter toegang tot onderrig bied.
Dit is egter van kardinale belang dat die onderrig by die universiteit van wêreldgehalte moet wees.
Me. Mbali Ntuli, nasionale voorsitter van die DA-Jeug, het gesê die aankondiging oor die twee universiteite is een van die hoogtepunte van Zuma se staatsrede.
- Volksblad