Verleidelike vry dieptes van die Colca-ravyn
2012-01-27 22:22
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Wanneer mens op die rand van ’n afgrond staan, wonder jy én verwonder jy jou. Wanneer jy die eerste keer saam met die daeraad oor die Colca-ravyn se rand kyk, wonder jy nie meer nie.
Jy weet sommer: onderwêreld, hier kom ek!
In die 50 uur wat dit my gevat het om van Johannesburg tot hier te kom, was ek nege daarvan nie op die pad, ’n vliegtuig, lughawe, taxi of publieke bus nie. In daai af-ure het ek soos ’n slaapwandelaar in my hotelkamer in Arequipa rugsak gepak, oë toegemaak en iets geëet voordat ek om 01:30 by die miernes van terminal terrestre saam met swaargelaaide locals en tientalle hoenderkuikens op die openbare bus na Cabanaconde geklim het.
VREUGDE EN VRYHEID
Daar op die laer kant van die ravyn, op 3 400 m, was dit alles agter my. Vreugde en Vryheid was my ander name. Van die bo-wêreld het ek eers genoeg gehad, maar ek het darem iemand saamgevat – ’n wonderlike reisgenoot wat my gedagtes gelees het:
“What a joy it is to the wild innermost soul. To be free of all the hemmed-in life – the horror of human tension, the absolute insanity of machine persistence.”
Ons is oor die rand, D.H. Lawrence in my rugsak; ná 70 jaar gewigloos, buitebladloos, vaal en verslete, maar o, so weergaloos!
Die lug was dunnerig, maar wat, ons 6 uur lange busrit onderweg hierheen het al ’n pas van 4 800 m oorgesteek. In die voetpad is mis van gister se pak-esels. Veraf, baie diep, ’n geruis. Nog verder, teen die oorkantste 5 500 m hoë hange van die ravyn waar die steiltes deur klein plato’s gebuig word, blink sinkplaatdakkies van nedersettings tussen groen Inka-terrasse.
Hoog daaragter voed ’n 100 m hoë waterval van die smeltende sneeupieke ’n riviertjie wat uit sy eie diep kloof in die steeds onsigbare Colcarivier plons.
Die paadjie daal, soms vinnig, soms langsaam, klipperig en los. Die geruis word ’n gedruis wanneer jy die rivier doer onder, amper regaf, merk.
Om nog ’n draai en die ravyn ontbloot homself in die ooste. Die rivier, merk jy vanaf die hangbruggie ná twee en ’n half uur se afdraande, is diep. Want selfs in vloed is hy smal.
Dit was warm in die onderwêreld – ’n plooi in moeder natuur se swetende hand. ’n Kort opdraande oor klippe lei na ’n klein plato en San Juan de Chucho. Ná die lang afdraande vang dit mens en jy koop net daar gebottelde water.
Verder aan is ruskans in wortelbome se koelte. Op in ’n nou kloof langs ’n riviertjie – die een wat jy van die rand af sien. ’n Stywe klim na nog ’n plato en Corsinhua. ’n Bruin slang seil voor my stewel verby.
ONBESMETTE WOND
Wanneer ek Spaans-loos by ’n nedersetting aangekom het, het ’n Engels-lose inwoner hande oopgevou, gekyk in die rigting waaruit ek gekom het en die gesprek só laat verloop:
“Amigos?”
Ek skud my kop.
“Solo?”
Ek knik my kop.
“Aaa! La gran aventura!”
Ai, ek sou so graag hul stories wou hoor, waarom hulle hier is. Alles wat hier is, is self afgedra, of op pakdiere.
Die sirkelroete lok stappers, maar die nedersettings is nie toeriste-magnete nie. Hul name lui nie klokkies nie. Beslis nie soos Cusco en Nasca met hul Inka-skatte nie.
Met hul ou sinkplaatdakke en terrasse wat moeg aan die hange klou, is hulle nie iets waarop die Inkas trots sou wees nie.
Maar jy onthou hulle – hul stowwerige straatjies vol eselmis, grysvaal, gekraakte kleigeboutjies en afgeleefdheid ten spyt.
Jy begryp waarom dié mense so geheg aan PachaMama bly. Soveel respek. Hoe dan anders, hier waar moeder natuur die mens se nietigheid op ’n yslike skaal oorbeklemtoon.
Die Colca is ’n skeur in die aardkors, maar dis nog ’n onbesmette wond.
Niemand het gebedel nie. Nie vir geld, kos of my toerusting nie. Geen leeglêery nie. ’n Ariquipeña-ouma aan die onderent van Malata en haar twee pragtige kleinkinders het twee reuse-piesangs aan my verkoop en gebraaide koring en kaas in ’n houtbakkie aangebied. Hulle was nederig, nie minderwaardig nie.
’n HELSE KLIMMERY
Ná ’n steil afdraande, my laaste bestemming in die onderwêreld: die Sangalle-reservaat, oftewel die Oasis. Langs die rivier bied dit ’n lowerryke lafenis en oornaggeriewe.
Voor 03:00 die volgende oggend was ek terug in die paadjie, kopliggie in my sak en twee ander onontbeerlike vriende in my hande: bergstapstokke. Ek wou sien wat die volmaan se lig aan die hellings, rante en pieke doen. Vir die Inkas was die eerste volmaan van ons jaar die “Ou Maan”.
Saam met die lig het die hoogtes gekom, en die kruisies aan die afgrondkant van die paadjie. Dit trek jou blik onwillekeurig terug na die dieptes. Jy wonder hoe ver jy sal val voordat jy iets tref.
Die styging van 1 100 m in ’n relatiewe kort afstand op die ruwe paadjie skep ’n helse klimmery. Ná meer as drie uur in die koue oggendlug het ek vir oulaas teruggekyk na ’n plek waar die kinders nog nie almal die bo-wêreld ken nie.
My reisgenoot was nooit hier nie. Hy kon net sowel gewees het: “The landscape is ancient, and classic – romantic, as if it had known far-off days and fiercer rivers... Steep, craggy, wild... a tangle of heights... all jammed up on top of each other.”
Die oorkantste berge en sneeupieke het begin gloei, maar in die weste het die dieptes nog die nag se kombers vasgehou. Dit het woes gelyk. Verleidelik. Vry.
Werd om te weet
- Die Colca is twee keer dieper as die Grand Canyon en ses keer dieper as die Visrivier-afgrond. Die naasdiepste ravyn op aarde is 163 meter vlakker as sy grootboet, Cotahuasi (3 535 m) – net 80 km van daar af, en wat vier Tafelberge insluk (die berg steek 880 m bo Kaapstad uit). Die sneeubedekte pieke van Coropuna (6 377 m), Ampato (6 288 m) en Sabancaya (5 967 m) lê aan weerskante van die Colca.
-“Colca” beteken stoorplek en verwys na gate in die kante van die ravyn, wat ook as grafte gebruik is.
- Die Colca is Peru se derde grootste toeriste-attraksie. Toegangsgeld vir staptogte kos 70 soles (R210). ’n Parkbeampte vra dit aan die begin of einde van jou besoek. By die Oasis-oornagplek onder – daar is ’n paar plekke – het ek R75 vir slaapplek in ’n oop klei-en-riet-chalet en ’n pasta-ete betaal.
- ’n Staptog word anti-kloksgewyse gedoen, sodat jy die steilste deel uitklim. ’n Skerp afdraand is altyd gevaarliker as ’n skerp opdraand. Jy kan ook pak-esels huur, bo en onder.
- Verskeie openbare busse ry reg deur die dag die 204 km tussen Arequipa en Cabanaconde. Ek het R100 heen en weer vir die Andalucia-bus betaal. Koop vooraf ’n kaartjie by terminal terrestre in Arequipa. Cabanaconde lê naby die toeriste-uitkykpunt en begin van die staproete.
- Dit kos R6 om die toilet te gebruik en sluit ’n stukkie papier in. Dra oral jou eie saam.
- Om die Cotahuasi te besoek verg ’n 13 uur lange busrit op slegte paaie en stadige bergpasse. Jy kan ’n 4x4 huur. As jy tyd het, pak hom; hy is wilder en stiller.

’n Toneel waaraan jy gewoond raak, soos hier op die plaza in die dorpie Cabanaconde, reg langs die ravyn.

’n Behulpsame vrou van Malata in haar daaglikse drag, ver onder in die canyon.

Oral waar jy kom, word jy aan die mense se godsdienstigheid herinner.