Verleidelike vry dieptes van die Colca-ravyn

2012-01-27 22:22

Die skrywer, ’n entjie af in die Ravyn. Foto’s: Pieter Oosthuizen

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Volksblad in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Wanneer mens op die rand van ’n afgrond staan, wonder jy én verwonder jy jou. Wanneer jy die eerste keer saam met die daeraad oor die Colca-ravyn se rand kyk, wonder jy nie meer nie.

Jy weet sommer: onderwêreld, hier kom ek!

In die 50 uur wat dit my gevat het om van Johannesburg tot hier te kom, was ek nege daarvan nie op die pad, ’n vliegtuig, lughawe, taxi of publieke bus nie. In daai af-ure het ek soos ’n slaapwandelaar in my hotelkamer in Arequipa rugsak gepak, oë toegemaak en iets geëet voordat ek om 01:30 by die miernes van terminal terrestre saam met swaargelaaide locals en tientalle hoenderkuikens op die openbare bus na Cabanaconde geklim het.


VREUGDE EN VRYHEID
Daar op die laer kant van die ravyn, op 3 400 m, was dit alles agter my. Vreugde en Vryheid was my ander name. Van die bo-wêreld het ek eers genoeg gehad, maar ek het darem iemand saamgevat – ’n wonderlike reisgenoot wat my gedagtes gelees het:

“What a joy it is to the wild innermost soul. To be free of all the hemmed-in life – the horror of human tension, the absolute insanity of machine persistence.”

Ons is oor die rand, D.H. Law­rence in my rugsak; ná 70 jaar gewigloos, buitebladloos, vaal en verslete, maar o, so weergaloos!

Die lug was dunnerig, maar wat, ons 6 uur lange busrit onderweg hierheen het al ’n pas van 4 800 m oorgesteek. In die voetpad is mis van gister se pak-esels. Veraf, baie diep, ’n geruis. Nog verder, teen die oorkantste 5 500 m hoë hange van die ravyn waar die steiltes deur klein plato’s gebuig word, blink sinkplaatdakkies van nedersettings tussen groen Inka-terrasse.

Hoog daaragter voed ’n 100 m hoë waterval van die smeltende sneeupieke ’n riviertjie wat uit sy eie diep kloof in die steeds onsigbare Colcarivier plons.

Die paadjie daal, soms vinnig, soms langsaam, klipperig en los. Die geruis word ’n gedruis wanneer jy die rivier doer onder, amper regaf, merk.

Om nog ’n draai en die ravyn ontbloot homself in die ooste. Die rivier, merk jy vanaf die hangbruggie ná twee en ’n half uur se afdraande, is diep. Want selfs in vloed is hy smal.

Dit was warm in die onderwêreld – ’n plooi in moeder natuur se swetende hand. ’n Kort opdraande oor klippe lei na ’n klein plato en San Juan de Chucho. Ná die lang afdraande vang dit mens en jy koop net daar gebottelde water.

Verder aan is ruskans in wortelbome se koelte. Op in ’n nou kloof langs ’n riviertjie – die een wat jy van die rand af sien. ’n Stywe klim na nog ’n plato en Corsinhua. ’n Bruin slang seil voor my stewel verby.

ONBESMETTE WOND

Wanneer ek Spaans-loos by ’n nedersetting aangekom het, het ’n Engels-lose inwoner hande oopgevou, gekyk in die rigting waaruit ek gekom het en die gesprek só laat verloop:

“Amigos?”
Ek skud my kop.
“Solo?”
Ek knik my kop.
“Aaa! La gran aventura!”

Ai, ek sou so graag hul stories wou hoor, waarom hulle hier is. Alles wat hier is, is self afgedra, of op pakdiere.

Die sirkelroete lok stappers, maar die nedersettings is nie toeriste-magnete nie. Hul name lui nie klokkies nie. Beslis nie soos Cusco en Nasca met hul Inka-skatte nie.

Met hul ou sinkplaatdakke en terrasse wat moeg aan die hange klou, is hulle nie iets waarop die Inkas trots sou wees nie.

Maar jy onthou hulle – hul stowwerige straatjies vol eselmis, grysvaal, gekraakte kleigeboutjies en afgeleefdheid ten spyt.

Jy begryp waarom dié mense so geheg aan PachaMama bly. Soveel respek. Hoe dan anders, hier waar moeder natuur die mens se nietigheid op ’n yslike skaal oorbeklemtoon.

Die Colca is ’n skeur in die aardkors, maar dis nog ’n onbesmette wond.

Niemand het gebedel nie. Nie vir geld, kos of my toerusting nie. Geen leeglêery nie. ’n Ariquipeña-ouma aan die onderent van Malata en haar twee pragtige kleinkinders het twee reuse-piesangs aan my verkoop en gebraaide koring en kaas in ’n houtbakkie aangebied. Hulle was nederig, nie minderwaardig nie.

’n HELSE KLIMMERY
Ná ’n steil afdraande, my laaste bestemming in die onderwêreld: die Sangalle-reservaat, oftewel die Oasis. Langs die rivier bied dit ’n lowerryke lafenis en oornaggeriewe.

Voor 03:00 die volgende oggend was ek terug in die paadjie, kopliggie in my sak en twee ander onontbeerlike vriende in my hande: bergstapstokke. Ek wou sien wat die volmaan se lig aan die hellings, rante en pieke doen. Vir die Inkas was die eerste volmaan van ons jaar die “Ou Maan”.

Saam met die lig het die hoogtes gekom, en die kruisies aan die afgrondkant van die paadjie. Dit trek jou blik onwillekeurig terug na die dieptes. Jy wonder hoe ver jy sal val voordat jy iets tref.

Die styging van 1 100 m in ’n relatiewe kort afstand op die ruwe paadjie skep ’n helse klimmery. Ná meer as drie uur in die koue oggendlug het ek vir oulaas teruggekyk na ’n plek waar die kinders nog nie almal die bo-wêreld ken nie.
 
My reisgenoot was nooit hier nie. Hy kon net sowel gewees het: “The landscape is ancient, and classic – romantic, as if it had known far-off days and fiercer rivers... Steep, craggy, wild... a tangle of heights... all jammed up on top of each other.”

Die oorkantste berge en sneeupieke het begin gloei, maar in die weste het die dieptes nog die nag se kombers vasgehou. Dit het woes gelyk. Verleidelik. Vry.

Werd om te weet

- Die Colca is twee keer dieper as die Grand Canyon en ses keer dieper as die Visrivier-afgrond. Die naas­diepste ravyn op aarde is 163 meter vlakker as sy grootboet, Cotahuasi (3 535 m) – net 80 km van daar af, en wat vier Tafelberge insluk (die berg steek 880 m bo Kaapstad uit). Die sneeubedekte pieke van Coropuna (6 377 m), Ampato (6 288 m) en Sabancaya (5 967 m) lê aan weerskante van die Colca.

-“Colca” beteken stoorplek en verwys na gate in die kante van die ravyn, wat ook as grafte gebruik is.

- Die Colca is Peru se derde grootste toeriste-attraksie. Toegangsgeld vir staptogte kos 70 soles (R210). ’n Parkbeampte vra dit aan die begin of einde van jou besoek. By die Oasis-oornagplek onder – daar is ’n paar plekke – het ek R75 vir slaapplek in ’n oop klei-en-riet-chalet en ’n pasta-ete betaal.

- ’n Staptog word anti-kloksgewyse gedoen, sodat jy die steilste deel uitklim. ’n Skerp afdraand is altyd gevaarliker as ’n skerp opdraand. Jy kan ook pak-esels huur, bo en onder.

- Verskeie openbare busse ry reg deur die dag die 204 km tussen Arequipa en Cabanaconde. Ek het R100 heen en weer vir die Andalucia-bus betaal. Koop vooraf ’n kaartjie by terminal terrestre in Arequipa. Cabanaconde lê naby die toeriste-uitkykpunt en begin van die staproete.

- Dit kos R6 om die toilet te gebruik en sluit ’n stukkie papier in. Dra oral jou eie saam.

- Om die Cotahuasi te besoek verg ’n 13 uur lange busrit op slegte paaie en stadige bergpasse. Jy kan ’n 4x4 huur. As jy tyd het, pak hom; hy is wilder en stiller.


’n Toneel waaraan jy gewoond raak, soos hier op die plaza in die dorpie Cabanaconde, reg langs die ravyn.


’n Behulpsame vrou van Malata in haar daaglikse drag, ver onder in die canyon.


Oral waar jy kom, word jy aan die mense se godsdienstigheid herinner.

 

binne volksblad

Weer
Lotto
Ksd: 13-19°C High level clouds. Mild. Pta: 7-21°C Sunny. Refreshingly cool.
Jhb: 4-18°C Sunny. Cool. Bfn: 3-20°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 15-25°C Sunny. Mild. PE: 14-26°C Sunny. Warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Senior Java Developer (Team Leader)

JHB - Northern Suburbs
Network IT Bruma
R35000 - R42000

Database Administrator

JHB - Northern Suburbs
Communicate Bruma IT Delivery
R500000 - R550000

DBA

JHB - Northern Suburbs
Communicate Bruma IT Delivery
R500000 - R550000

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

CHEVROLET

Corsa 1.4 Club Utility MY10 PU
2011
R 129,950.00

VOLKSWAGEN

CitiGolf 1.4i 5-dr MY04
2007
R 72,995.00

FORD

Bantam 1.3i XL AC PU MY09
2011
R 114,990.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Diablo 3 nou beskikbaar

Die langverwagte Diablo 3 is nou beskikbaar vir R449,95. Koop dit nou.

Wintertreffers

Nuwe reekse pas ontvang. Verdryf die winterkoue met Downtown Abbey, One Tree Hill & nog veel meer. Koop dit nou.

Nuwe musiek-DVD’s

Kyk na al jou gunstelingmusiek op DVD. Koop dit nou.

The Sins of the Father

Bestel jou kopie van die #1 topverkoperskrywer Jeffrey Archer. Nou slegs R186,95. Koop dit nou.

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Aanbod van die week

PS3 speletjies vanaf R149.95

Plus PS2 en PSP speletjies vanaf R99.95. Slegs terwyl voorraad hou. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.