G’n droogte-kommer met ‘Sedums’ in tuin
2011-12-11 18:58
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
As dit so warm raak in die somer wil ’n mens nie sukkel met plante vol nukke en wat nie die hitte kan verdra nie. Jy soek tawwe tienies wat meestal vir hulself sorg en altyd mooi lyk in die tuin of in potte. Sommige Sedums is die perfekte keuse hiervoor.
Die Sedums is oor die algemeen ’n groot genus van verskillende spesies en baie hibriede met ’n variasie in vorm, groeiwyse en klimaatvereiste. Party hou van koue en verdra nie hitte nie, terwyl ander weer hittebestand is, maar nie teen kwaai koue nie. Daar is eenjariges, kruipende, kruidagtige grondbedekkers tot redelike groot struike. ’n Belangrike kenmerk wat hulle egter gemeen het, is ’n vermoë om water in hul blare te berg.
Van die kruipende of polvormige soorte wat uiterste groeitoestande kan verdra, word dikwels op geboue se dakke in die Noordelike Halfrond geplant, waar hulle help met isolering teen koue. In Engels staan hulle as stonecrop, goldmoss en biting stonecrop bekend, en een spesie genaamd Sedum acre het selfs die interessante volksnaam welcome home husband though never so drunk!.
Plaaslik is daar deesdae ’n hele paar nuwe soorte beskikbaar en selfs van die outydses wat mettertyd stoom verloor het, word nou weer gekweek. Hulle word ingespan as rotstuinplante, grondbedekkers op die voorgrond van waterslim randakkers, in potte of hangmandjies geplant omdat hulle so oulik daarin lyk en ook gebruik in die hedendaagse vertikale tuine wat teen mure staangemaak word, omdat hulle vlak wortelstelsels het wat in min grond sal anker.