- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Geld kan nie ‘lêtte’ koop nie
deur Marlese Smith
2011-11-09 17:33
EK is soos ’n kind besig om die slapies te tel na ’n naweek-wegbreek en voer kort-kort die een of ander boksprongetjie uit met ’n toot-toooot-vreugdekreet – dit natuurlik alles agter geslote deure.
Want ons grootmense lag mos maar net so effens uitbundig as ons opgewonde is oor iets – geen gespringery in die lug of uitroepe voor mekaar nie.
Die naweek kuier familie by ons. Hulle het ’n vierjarige liefiekind wat die lewe met oorgawe geniet.
Vrydag sit ek voor die spieël – besig, besig om betyds te wees vir werk. Sy val op die bed agter my neer met haar armpies agter haar kop gevou en sê met ’n salige uitdrukking: lêtte, lêtte. Lêtte, vra ek, en onthou toe skielik sy ruil nog soms haar t en k om. Ja, sê sy, hulle was by die kwekery, en sy het perdjie gery – lêtte, lêtte. En motorfietsies gery – lêtte, lêtte. En springmat gespring – lêtte, lêtte. En sy het aan ’n groot tou geswaai en in die nat sand geval – lêtte, lêtte.
Bedrywige dag wat sy gehad het en niemand het daarom vrae gevra toe sy reeds vroegaand almal nagsê en kamer se kant toe verdwyn nie, want sy is moeg en gaan slaap.
Sy probeer nie om nog ’n uur of vyf uit ’n dag te pers wat reeds verby is nie. ’n Dag wat al jou energie uit jou getap het – en nie omdat dit ’n lêtte dag was nie, maar een van die maak-voorsiening-vir-die-toekoms-dae, of werk-om-’n-mooier-huis-te-skep-dae, of werk-om-modieuse-klere-te-koop-dae nie.
Lêtte dae lewe jy nie in Nike-tekkies nie, jy lewe dit kaalvoet. Lêtte dae lewe jy nie in praghuise nie, jy lewe dit buite in die son of onder skadubome.
Lêtte dae lewe jy nie in ’n rocking chair op die stoep van ’n strandhuis as jy 80 is nie. Jy lewe dit nou – wanneer jy alles neersit, ’n kind in haar oë kyk sodat sy jou met entoesiastiese handgebare vertel van hul besoek vandag aan die brandweer – ’n lêtte dag!