- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Waterverlies verg aandag
deur Hendrik Minnie
2012-02-01 23:01
Die kantoor van die ouditeur-generaal (OG) het bekend gemaak dat die Mangaung-munisipaliteit sedert die jaar 2010-’11 R114miljoen se “water verloor het”.
Water verloor? Hoe waar en waarom? Dit is ’n vraag wat net die amptenare kan beantwoord.
Dit is onaanvaarbaar en duur om so ’n kosbare bron te laat verlore gaan terwyl ons verlede jaar vir dae sonder water moes klaar kom.
Graag wil ek die munisipaliteit herinner en uitnooi na Leeubekkiestraat, Heidedal, waar ’n waterpyp die afgelope twee jaar lek.
Ek het dit ook by die kantoor van die burgermeester asook die huidige munisipale bestuurder aangemeld, en dit is steeds nie herstel nie.
’n Waterlek in Hibuscusstraat het ook ’n maand geneem om herstel te word.
’n Riool- en waterlekkasie reg voor die deur van munisipale kantore in Heidedal wat vir meer as ’n jaar gelek en oorgeloop het, is ook onaanvaarbaar en ’n teken dat inwoners se gesondheid en lewe nie vir die munisipaliteit belangrik is nie.
Soveel rand se water het verlore gegaan! Ek wil graag weet hoe dit gekeer en vermy gaan word en dat die stappe aan die publiek bekend gemaak moet word. Van die omkeerstrategie word reeds sedert 2002 gepraat, maar geen besparing vind plaas nie.
Onthou, lekkasies buite woonerwe is die verantwoordelikheid van die munisipaliteit en dié op woonerwe is die verantwoordelikheid van die eienaar.
Spoedige aandag moet daaraan gegee word om die verliese van nog miljoene rande se water te vermy.
Hendrik Minnie
Bloemfontein