- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Verwydering van bord verbaas nie
deur Brian Gouveia
2012-02-02 22:33
Die reaksie van die Mangaung-metro oor die verwydering van die advertensiebord is nie verbasend nie.
Die ANC preek al jare oor die beter behuising en klas van lewe wat hulle aan hul ondersteuners gaan verseker en verskaf. Ons kan almal duidelik sien dat dit net ’n droom vir die ondersteuners is en in die tussentyd word die hoë amptenare al hoe ryker en leef al hoe meer in weelde. Ongelukkig is die weelde en selfverryking nie vanweë hul talente en toewyding nie, maar die onwettige misbruik van geld wat vir die verbetering van die land en sy mense bedoel was.
Ek dink daar is wel amptenare wat hul bes probeer gee, maar die nes word net meer besmet met die oormeerderheid blatante en skaamtelose aksies wat daagliks gepleeg word. In elke regering is daar ongelukkig hierdie soort bedrywe, maar dit blyk dat Suid-Afrika ’n voorste leier is met dié gespesialiseerde vorm van misleiding.
Die leiers word skaamteloos ryker op die rug van hul oningeligte ondersteuners. Dit is skokkend, maar wel die feit.
Ook, waar is al die amptenare wat nooit beskikbaar is nie op hul fone vir kommentaar? Seker geregtig op “rustyd” weg van hul gejaagde en besige lessenaars! Miskien op ’n bosberaad om die volgende misbedrywe te formuleer.
Geniet jou nuwe huis Meneer Premier – jou mense verstaan en gun jou dit, want dit het jare se beplanning en tyd geneem in jou skaamtelose lewe.
Brian Gouveia
Bloemfontein