- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
UV het nie nuwe taalbeleid
deur Lacea Loader
2010-09-02 21:50
Die brief van prof. Jaap Steyn in Volksblad van 30 Augustus verwys. In sy brief meld prof. Steyn dat prof. Jonathan Jansen, rektor en visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat (UV), oënskynlik tydens die onlangse D.F. Malherbe-gedenk-lesing ’n nuwe taalbeleid vir die instelling aangekondig het. Hierdie stelling is onwaar en neem die lesing heeltemal uit konteks.
Prof. Steyn se stelling dat ingrypende veranderinge ook aangekondig is en dat die nuwe beleid deur die UV-raad aanvaar is, is ook onwaar en is ’n aanduiding dat hy moontlik nie op die hoogte is van die prosedure wat gevolg moet word indien veranderinge aan die UV se taalbeleid gemaak word nie.
Die UV is in der waarheid besig met ’n proses om na aanbevelings van die UV-taalkomitee oor aanpassings in sy taalbeleid te kyk. Hierdie voorstelle sal egter voor implementering die volle besluitnemingspad tot by die UV-raad volg.
Die UV is ’n parallelmedium-instelling en sal so bly. Ons sal voortgaan om klasse in Afrikaans en Engels aan te bied. Hierdie stelling is onomwonde deur prof. Jansen tydens die lesing gemaak. Hy het ook aangedui dat swart studente met verloop van tyd Afrikaans sal leer, terwyl wit studente Sesotho, en alle studente ordentlike Engels sal leer. Nêrens in die lesing is daar sprake daarvan dat die UV gaan wegdoen met sy parallelmedium-taalbeleid nie. Daar sal wel na mengvorme van modelle gekyk word om taaldiversiteit die beste te bestuur.
In ’n onlangse berig deur Alet Rademeyer wat in Volksblad van 27 Augustus verskyn het, word gemeld dat die UV tussen 1999 en 2008 ’n toename in Afrikaanssprekende studente gehad het.
Hierdie bevinding deur prof. Flip Smit, demograaf en oud-rektor van die Universiteit van Pretoria, dui daarop dat die aantal Afrikaanssprekende studente by ’n instelling soos die UV juis gegroei het. Waarom sal die UV dan “ingrypende veranderinge” aan sy taalbeleid maak?
Die D.F. Malherbe-lesing is in Afrikaans en Engels beskikbaar by www.uv.ac.za.
Lacea Loader
Waarnemende direkteur: Strategiese Kommunikasie, Universiteit van die Vrystaat