- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Staat wil nie grond om dié woonbuurte koop
deur Amos van der Westhuizen
2012-01-27 22:22
Ek bel die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming in Bloemfontein en praat met ene Kagiso. Ek bied hom ’n hipotetiese plaas aan om te koop, 5 km van die buitewyke van Thaba Nchu. My motivering is dat daar wel so ’n plaas is wat ek wil koop, waarna ek die infrastruktuur wil herstel en dan wil ek die plaas verkoop aan die departement.
So wen almal hopelik. ’n Begunstigde kry ’n plaas waarop hy iets vir die land kan produseer, die departement vorder met hul hervorming, iemand kan in diens geneem word en ek maak ’n winsie.
Tot my teleurstelling deel Kagiso my mee dat hul riglyn is om nie binne 15 km van ’n “lokasie” (sy woord) grond te koop nie.
In hul studie oor die lewensvatbaarheid moet hulle ook kyk na die waarskynlikheid van misdaad en of daar met veiligheid geboer kan word. Dit blyk dus dat die regering aanvaar het dat daar binne 15km-sirkels om alle lokasies geen boerdery bedryf kan word nie.
Min van die land bly dan oor. Grondhervorming is nie die bedreiging vir voedselsekerheid nie. Lokasies is.
Die staat het die stryd teen misdaad gewonne gegee en al hierdie gebiede as braakland verklaar.
In verkiesingstyd herinner die Amerikaners die kandidate met “It is the economy, stupid” aan die kruks van die saak.
By ons hang werkskepping, ekonomiese groei, armoede-verligting, onderwys, gesondheid en elke denkbare regeringsdoelwit eerstens af van persoonlike veiligheid en die veiligheid van eiendom.
Dis die misdaad, domkop!
Amos van der Westhuizen
Bloemfontein