- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Spoed ís rede vir padsterftes
deur Johan Beukes
2011-09-24 03:17
Die berig “Plaaslike oplossing vir ongelukke in SA nodig” verwys.
Vir die J.P.S.A. om te beweer dat spoed selde die oorsaak is van noodlottige padbotsings is totaal absurd. Ek is bereid om met enige persoon of instansie in debat te tree om te bewys dat spoed (ook as komponent van roekelose en dronkbestuur) ’n kritieke rol speel. Om egter nou soos mnr. S’bu Ndebele die spoedperk op buitepaaie te wil verlaag na 100 km/h sal geen invloed op die bykans een miljoen botsings per jaar op die paaie hê nie. Weens ontoereikende wetstoepassing in die meeste streke in ons land, is daar weinig bestuurders wat hulle aan enige padreëls steur. As ek self binne die spoedgrens bestuur, word ek konstant deur ander verkeer ingehaal en verbygesteek asof ek stilhouplek soek.
Overgesetsynde, bykans 12 miljoen voertuie oortree daagliks die spoedwet, en hoeveel word gevang? Meer nog, hoeveel boet daarvoor in rand en sent? Baie boet wel met hul lewe, asook dié van passasiers en mede-padgebruikers.
Ons moet ook onthou hoe hoër die snelheid van voertuie tydens botsings, des te meer is die erns van die beserings of kanse van insittendes om te sterf. Dis tog logies.
Ruimte laat my nie toe om die ander hoofoorsake van botsings uit te lig nie, maar my spreuke nog deur die jare was: ’n Bestuurder bestuur soos wat hy/sy toegelaat word om te bestuur.” Sonder doeltreffende wetstoepassing en gepaste strawwe sal almal al gou (soos bv. nou al vir 17 jaar in Bloemfontein) hul eie padreëls maak.
In ’n neutedop: Gewenste wetstoepassing en ook professionele gevorderde bestuurderopleiding is die twee pilare waarop veilige paaie rus. Enige botsing kan terugherlei word na ’n menslike fout.
Johan Beukes
Voormalige streekhoof:
Nasionale Verkeersveilig-
heidsraad