- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Nuwe Springbokafrigter kort nou almal se steun
deur G.P.D. Terblanche
2012-01-30 21:43
Rugby is ’n koningsport. Vir Suid-Afrika is dit nog veel meer. Dis ’n beeldbouer oor die hele wêreld heen vir ’n land wat dit baie nodig het. Daarom verdien dit die hoogste voorkeur. Die beste talent, die beste afrigters, die beste administrateurs.
Ons maak nou ’n nuwe begin met ’n jong, maar gesoute en dinamiese afrigter. Kom ons gooi ons volle gewig en lojaliteit agter Heyneke Meyer en sy span in en dra hulle na sukses en roem vir Suid-Afrika.
Die afgelope vier jaar was vir ons derduisende rugby-ondersteuners frustrerend. Almal se steun, almal se harte was nie daar nie, omdat daar ongelukkigheid oor afrigting, spankeuses en besluitneming op kritieke tye was. Aan baie dinge is swaar gesluk.
Gemengde sukses is behaal. Met die regte spelers in die Springbokspan kon dit veel anders gewees het. Uitblinkers het dikwels op die kantlyn gesit en koudkry. Dit is egter water onder die brug deur.
Nou moet met nuwe oë en visie vorentoe gekyk word. Net die beste spelers moet soos in dr. Danie Craven se dae, die groen en goud oor die kop trek. Kleur en transformasie moenie verder ’n rol speel nie. Al sou al vyftien manne van kleur wees, sal hulle die beste span wees as hulle net op meriete gekies word.
As ons wil transformeer, dan moet dit in die unies, klubs, universiteite en skole gedoen word. Daar moet elkeen die geleentheid kry om bo uit te kom en is daar baie tyd vir proefnemings. Té veel passasiers het die afgelope vier jaar saam met die Springbokke oorsee gegaan. Hulle het die potensiaal van die span verswak en was die hoë eer nie waardig nie.
Die Springbokbaadjie, vir baie die hoogste eer wat hulle te beurt kan val, moet weer die blinkste diamant in dié sportkroon gemaak word.
G.P.D. Terblanche
Bloemfontein