- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Kry liewer meer verkeersmanne
deur Amos van der Westhuizen
2011-09-24 03:17
Ek sien mnr. S’bu Ndebele, minister van vervoer, wil graag die maksimum spoedbeperking op ons paaie verminder na 100 km/h. So ’n paar jaar gelede is die maksimum perk vir bloedalkoholinhoud vir bestuurders verlaag van 0,08% na 0,05%.
Ek is bereid om te wed dat daardie stap nie die padsterftes weens dronkbestuur verminder het nie.
Mense weet steeds dat hulle waarskynlik daarmee gaan wegkom in die lig van swak polisiëring, of sal ek eerder sê in die donkerte van swak polisiëring.
’n Laer spoedbeperking sal dieselfde groep mense wat nou aan spoedbeperking en ander padreëls gehoor gee, stadiger laat ry, terwyl die onverskilliges sal voortgaan soos gewoonlik.
In plaas van karring aan spoedbeperkings, kan hy eerder ’n paar verkeersmanne (kry ’n mens hulle nog?) stuur na skole en winkelsentrums om parkering op geel en rooi strepe, voetoorgange en stopstrate te polisieer.
In ons land waar ons nog maar in rasterme dink wanneer ons oor misdaad praat, vrees die meeste mense die jong swart man met die mes wat jy in die nag in jou gang raakloop. In my lewe is daar ’n veel algemener profiel van misdadigers: Dis die wit mammie met die groot nutsvoertuig wat haar eie kind by die skool oplaai, en dan vir lewe en dood veg om die kind by sy volgende aktiwiteit te kry, of betyds te wees vir haar naels- of hare-afspraak.
Almal wat padreëls net so effens buig, behoort Ouboet Wynand se brief in Volksblad van 21 Septebmer te lees om te sien wat onverskillige bestuurders aan menselewens kan doen.
Amos van der Westhuizen
Bloemfontein