- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Dit lyk net na lekker studentpret
deur Estelle Barnard
2010-08-04 23:25
Nadat ek na die “nuwe skokvideo” van die UV gekyk het, lyk dit vir my maar net na lekker studentepret. Wanneer gaan ons, wit en swart, ophou om in alles wat gebeur as rassisties te beskou? Almal op die video is in ’n lekker ontspanne gemoed en dit lyk of almal dit geniet.
Met die Reitz-video kort in ons geheue, sal almal nou weer sê, ja nou’s dit swart op wit. Ai asseblief tog mense. Dis studente en ek glo met my hele hart dat daar geensins iets snaaks of rassisties met die maak van hierdie video of die Reitz-video bedoel was nie.
Met die Reitz-video het geldgierigheid die oorhand gekry. Iemand het die werkers beslis opgestook om verder te gaan met die saak!
Gaan Suid-Afrika nou weer dieselfde gemors moet deurgaan, omdat mense maar net nie oor rassisme en die eie “ek” kan kom nie. Niemand word verneder nie. Ongelukkig sal die universiteit/prof. Jansen nou konsekwent moet optree teenoor die oortreders. Ontgroening is verbied en dit blyk dat die nuwe video ná prof. Jansen se verbod gemaak is.
Dis baie jammer dat alles in ons samelewing op rasisme gebaseer word. Só sal ons nooit kan versoen nie. Miskien eendag wanneer al die Malemas en oues nie meer daar is nie, sal ons jongmense die brûe bou.
Estelle Barnard
Kimberley