- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Bitterbek lees Volksblad
deur Bitterbek
2012-01-27 22:22
Hierdie week het ek omtrent die nuus in Volksblad met ’n knippie sout geneem!
Eerstens die hengelaar wat die son byna doodgebrand het. Ek wonder of dit die waarheid is. Was daar so ’n bietjie van dr. Loerdoer se druppels in die verhaal? Die meeste van sy brandwonde was oor sy skouers en bo-arms. Dit lyk vir my na die soort visterman wat kaal bolyf en lekker getrek visvang in die son! Dan verskyn die blase eers drie dae later! Dit is wanneer die druppels uitgewerk was...
Dan Joost se storie oor die J9-projek... Die ander “wonderwerk” was die hond wat by die huiswerker se huis opgedaag het. Wat ’n oulike hond. Hy het seker ’n GPS gehad en het die huiswerker se adres geken.
Die brand van die Kroonstadse stasie en die nie-bestaan van doeltreffende brandweerdienste was baie hartseer. Min mense weet dat dit die norm van al die brandweerdienste dwarsoor die land is. Wag maar dat daar ’n groot brand in Bloemfontein is... Hier gaan ’n klomp rooi gesigte wees oor tekorte aan mannekrag, toerusting en beskikbaarheid van ’n diens.
Al artikel wat my opgewonde gehad het, was die een van Wayne Duvenhage. Kan ons hom die minister van vervoer, verkeer en beheer maak?
Alles wat hy daar sê, is die waarheid. Bewegende oortredings, roekeloosheid en arrogansie, spoed, swak teenwoordigheid van verkeerslui, taxi’s ensovoorts is alles redes vir verkeersongelukke.
Hy maak ongelukkig nie melding van die omkoopgeld wat die verkeerslui ontvang nie. Sommige van hulle maak op ’n Sondag hul hele maand se salaris plus daarmee op.
Almal praat daaroor, maar daar word niks aan gedoen nie. In Bloemfontein sien mens ook net namiddag met huistoe-gaan-tyd verkeersmotors met familie in wat huis toe geneem word. Die res van die dag is hulle afwesig!
Dié ou bitterbek kan nie wag vir môre se Volksblad nie!
Bitterbek
Bloemfontein