- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
ANC en inmenging by die NVG
deur Willem Doman
2012-02-08 22:21
Prediker 8:11 waarsku: “Omdat die verkeerde daad nie meteens gestraf word nie, hou mense eenvoudig aan om verkeerd te doen.”
Geen wonder die Prediker was so sinies nie. Hy sou heel tuis gevoel het met wat vandag dikwels in die Suid-Afrikaanse regstelsel gebeur.
In die Noord-Kaap is mnr. John Block, provinsiale ANC-leier en LUR, en andere in 2010 in hegtenis geneem (en natuurlik op borgtog vrygelaat) weens beweerde bedrog, korrupsie en geldwassery van meer as R40miljoen.
Verlede week is die saak vir ’n jaar uitgestel tot 31 Januarie 2013 omdat adv. Menzi Simelane nie die nodige getekende sertifikaat aan die aanklaer gelewer het nie. Die rede: Simelane is as nasionale vervolgingshoof op langverlof geplaas deur pres. Jacob Zuma ná ’n appèlhofbeslissing teen Zuma se verkeerde aanstellingsprosedure!
My vraag: Is daar niemand wat verantwoordelikheid neem as die hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag met “langverlof” is nie? Het die president niemand aangestel om waar te neem terwyl hy sy foute regstel nie?
Moet talle sake in die land stilstaan totdat iemand in die presidentskantoor of een van ons geleerde vriende in die regswêreld ontdek hier is ’n probleem?
Hou u hart vas – bogenoemde saak kom nou eers op 31 Januarie 2013 in die landdroshof voor.
Dan sal dit eers na die hooggeregshof oorgeplaas word en die verdediging se regspan het aangedui hy sal eers in Augustus of September 2013 beskikbaar wees vir verhoor.
As die Noord-Kaapse hofrol teen daardie tyd nie al so vol is dat ’n datum nie in 2013 gevind kan word nie.
Is ons regstelsel so vrot weens gekompliseerde wette en reëls, of is dit die mense wat dit bestuur?
Eersgenoemde is ’n moontlikheid, maar laasgenoemde die werklikheid – te oordeel na Volksblad se berig “Politieke druk ondermyn glo NVG; Oud-hoofde betreur tragedie” vroeër vandeesweek oor die ANC se politieke inmenging by die NVG.
Willem Doman
Kimberley