VW-nutsbuks hibriedbielie met drie enjins
2011-12-15 09:49
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Presies in watter rigting gaan die volgende Groot Segment in die motorwêreld sy koers neem?
Dit is die vraag waarmee alle vervaardigers sukkel, maar veral by Volkswagen is dit duidelik dat hy hard aan die kopkrap daaroor is.
Dat die gewildheid van “sagte” sportnutsbuksies soos die Kia Sportage, Hyundai ix35, Ford Kuga en Nissan Qashqai nog ’n paar jaar kan voortduur, is duidelik as ’n mens kyk na VW se jongste konsepmodel, wat hy op die pas afgelope Tokio-motorskou gewys het.
Die Cross Coupe is VW se idee van die rigting waarin die mark kan beweeg. Soos sy naam aandui is hy ’n kompakte sportnutsbuks; ’n kruising tussen ’n klein sedan met ’n koepee-voorkoms, ’n nutsbussie en ’n “sagte” veldryer.
In sy konsep-gewaad is die Cross Coupe ’n hibriedryding. Volkswagen kombineer sy 1,4 liter-TSI-petrolenjin (wat oor sowel ’n turbo- as ’n drukaanjaer beskik) met twee elektriese motors om die buks aan te dryf.
Hoewel ons reeds ’n verskeidenheid weergawes van VW se TSI-enjins in Suid-Afrika kry, is dié een wat hy in die Cross Coupe gebruik nog ’n weergawe, wat 110 kW en 210 Nm lewer. Ons TSI-enjins lewer of ’n raps minder of meer krag en wringkrag.
VW sê die een elektriese motor (40 kW, 180 Nm) is op die vooras gemonteer en dryf dié wiele aan, terwyl die ander motor (85 kW, 270 Nm) op die agteras staan en die krag daarheen oordra.
Hoe hierdie drie enjins saamwerk is nogal interessant. Die motor kan óf in suiwer elektriese modus bestuur word (met ’n reikafstand van net 45 km) óf jy kan die elektriese en petrolkrag kombineer.
Die ratskakeling geskied deur VW se netjiese, sewegang-, soort DSG- outomatiese ratkas.
Wanneer die agter- elektriese motor sy werk doen, sal die voorste enjin hom help om ekstra krag te verleen. Die petrolenjin sal dus die rol van ’n kragopwekker vir die battery vertolk.
Hierdie oordrag van krag tussen die voor- en agter- elektriese enjins geskied net deur kabels en nie soos in ’n konvensionele 4x4 met ’n dryfas nie. VW sê die spasie wat deur die afwesigheid van ’n dryfas geskep, word met litiumioon-batte- rye gevul. Dit help om die voertuig se balans beter en die swaartepunt laer te kry.
Maar terug na die posisionering van die Cross Coupe. Synde sy grootte presies halfpad tussen die Golf en die Tiguan s’n is, plaas VW hom netjies in die hart van die groeiende sportnutsbuks-segment.
Om sy padgedrag te verbeter het VW die Cross Coupe ’n lang asafstand (2,63 m) gegee wat selfs ’n paar sentimeter langer as die Tiguan s’n is.
Die kort oorhange voor en agter en billike grondvryhoogte sorg verder dat hy heel tuis op ’n grondpad sal wees.
Agter die stuur en danksy ’n beheerknop op die instrumentpaneel kan die bestuurder van drie ry-modusse kies, naamlik Sport, Stad en Veldry. Daarby kan jy ook kies om net met batterykrag te ry.
Dié drie modusse beheer onder meer jou stuurwiel- en petrolpedaal se sensitiwiteit, asook die veringverstellings.
Dit beheer ook die getal wiele wat aangedryf word.
In gewone tweewielaandrywing word net die voorwiele gebruik.
Met die wegtrek sal die elektriese motor op die vooras die aandryfwerk doen, waarna die petrolenjin aan die gang kom om met ekstra krag te help.
Haak jy die 4x4-modus sal die elektriese motor agter ook sy bydrae dáár lewer.
In normale gebruik dien die petrolenjin meerendeels as ’n kragopwekker vir die batterye wat ook nominale krag aan die vooras vir aandrywing lewer.
Volkswagen sê hoewel die buks ’n fris 1,75 t weeg, kan mens teen ’n bestendige 100 km/h ’n verbruiksyfer van net 2,7 liter per 100 km haal. Dis nogal verstommend.
Kombineer dus sy brandstoftenk van 55 liter daarmee en jy sal net meer as 855 ver kan ry voordat jy weer moet hervul en herlaai.
Sy topspoed is 201 km/h, terwyl die versnelling tot 100 km/h in net 7,0 sek. geskied.
Die probleem is dat die Cross Coupe net 450 kg kan dra – vier mense sonder bagasie of twee mense met bagasie.
Die ontwikkeling van litium- ioon-batterye en slimpetrolenjins (soos VW se kombinasie van ’n kleinkapasiteit-enjin met turbo- en drukaanjaging) bied al hoe beter opsies vir hibriedmotors.
Skielik begin die toekoms al hoe blinker vir hibriedvoertuie lyk.
Die konsepmodel spog met VW se heerlike sewegang-, soort DSG- outomatiese ratkas, wat saam met twee elektriese enjins en ’n klein TSI-enjin krag na die wiele stuur.

Volkswagen se Cross Coupe… Dié hibriedbuks spog met ’n goeie grond- vryhoogte, kort oorhange voor en agter en vierwiel-aandrywing.
- Beeld