Toyota se Avanza word groter
2012-02-02 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Daar is ’n nuwe Toyota ?Avanza op die mark.
Soos die geval met die oue was, is die hoofdoel van dié waentjie om mense of ’n vraggie te karwei.
Die klem is op veeldoeligheid soos vir taxi-operateurs en sakeondernemings wat personeel moet skuif. Daarvoor is geen finesse nodig nie.
Toyota het probeer om die nuwe Avanza darem so effe mooier te laat lyk en jip, hy lyk beter as voorheen. Maar van buite is dit steeds ’n profiel wat nie sag op die oog val nie.
Die nuweling is 20 mm langer en 25 mm breër as voorheen, wat die sitsake help. Boonop kan die tweede ry se rugleuning sowat 60 mm terugsak vir groter gemak.
Die derde ry sitplekke vou maklik op of af en toegang deur die tweede ry daarheen is maklik.
Daar is nou ook ’n bietjie meer pakplek, selfs as die derde ry sitplekke in gebruik is. Dit is maar sowat 18 mm wat die laairuim langer is.
Daar is steeds goeie grondvryhoogte en agterwielaandrywing vir die een of ander rede. Deurstamp oor hobbels met ’n vraggie in is geen bekommernis nie, maar ooppad-stabiliteit, veral in sterk wind teen 120 km/h of meer beteken jy moet ’n op en wakker bestuurder wees.
Die binnekant sien heel anders daaruit en ons het die kans gehad om die luukse vlagskip-TX te bestuur. Vlagskip is dalk ’n te dramatiese beskrywing en ons moet eerder maar verwys na die model aan die bo-punt van die Avanza-leer.
Daar’s nie veel fout met die binneruim nie en die dakgemonteerde lugversorging is baie nuttig en gerieflik vir die passasiers in die tweede en derde rye.
Daar is twee lugsakke in dié model, kragstuur, ’n ingeboude klankstelsel met sokke vir eksterne musiekspelers, satellietkontroles op die stuurwiel en ’n ritrekenaar en die afwerking is oor die algemeen netjies.
Op die pad met ’n vraggie Hennops laat die Avanza ’n mens met gemengde gevoelens. So van wegtrek tot by die volgende verkeerslig voel die 1 500 cc-petrolenjin (76 kW, 136 Nm) nie te dooierig nie, maar op die oop pad of teen ’n opdraande sou ’n mens baie meer poeier wou hê.
Boonop sing die enjintjie, wat betreklik hoog toer, soos ’n swerm bye in jou ore. Daar is ook ’n 1 300 cc-model (67 kW, 117 Nm), wat ons genadiglik nie op die proef gestel het nie.
Die rit is ferm en die voorste sitplekke is soos kroegstoeltjies: hard, hoog en ongemaklik as jy nugter is.
Die Avanza, die groter Innova en voorgangers soos die Condor en andere in dié liga is ’n goedkoper alternatief vir Toyota se duurder opsies soos die Verso. Boonop verskil die teikenmarkte vir die twee voertuie en ’n mens moet nie van die pryssensitiwiteit in die Avanza-klas vergeet nie. Vir iemand wat na die spesifieke veelsydigheid van die Avanza soek teen ’n sekere prys is estetika eenvoudig nie belangrik nie.
Ons toetsmodel was nie die beter kopie in die reeks as na prys gekyk word nie.
Ek kan nie aan ’n beter manier dink om die Avanza te beskryf as wat ons sustertydskrif TopCar dit stel nie: die Avanza is soos ’n ryskoekie – hy vervul ’n rol, maar sonder enige geur. Goed, dit was sy voorganger; nou is die ryskoekie ’n bietjie groter.
- Pryse:
Avanza 1.3 S – R155 900; Avanza 1.3 SX – R168 800; Avanza 1.5 SX – R175 500; Avanza 1.5 SX (outo) – R189?600; Avanza 1.5 TX – R202 200.

Toyota se nuwe Avanza?… ’n Langer platform en beter vering en kyk net daardie interessante, kort oorhange voor.

Binne lyk die nuweling heel gaaf en afwerking in die model waarmee ons gery het was meer as skaflik.

’n Deel van die Avanza se aantrekkingskrag lê in die feit dat sewe mense in ’n redelike klein voertuigie vervoer kan word.