Ter verdediging van die Defender
2011-12-15 09:49
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Hoe gemaak om ’n ikoon van die 20ste eeu te laat voortleef in die 21ste eeu?
Dis natuurlik die vraag waarmee die ontwerpers by Land Rover die laaste paar jaar reeds worstel.
Hul Defender is lankal verby sy rakleeftyd; nie vanweë sy meganika se tekortkomings nie, maar eerder die wetstoepassers se aandrang op skoner uitlaatgas en beter verbruiksyfers.
Die Defender soos hy nou daar uitsien, het in Europa ’n anomalie geword. Dit is nie meer die cool voertuig van weleer nie. Veral omgewingsbewustes maak van die Defender die slaansak van als wat sleg is betreffende skadelike uitlaatgas en die vernietiging van die omgewing.
Die goeie nuus is dat Land Rover reeds hard aan die dink is oor ’n nuwe gedaante vir dieselfde konsep. Die Defender sal voortleef; dis net ’n kwessie van presies hoe hy gaan lyk – moderner, wat dus “sagter” lyne veronderstel – en wat sy dryfmiddele sal wees.
In September het Land Rover reeds ’n nuwe konsepmodel gewys wat ’n voorsmaak bied van hoe die volgende generasie Defenders daar kan uitsien.
Nou het Land Rover sy DC100 en DC100 Sport (’n sagtedak-weergawe van die DC100) op die Los Angeles-motorskou uitgestal wat dié nutsbukse ’n tree verder op die ontwikkelingsleer neem.
Die wiele is wel ’n paar 20 dm.- Coopers wat heeltemal te oordadig vir ’n produksiemodel sal wees, maar wat die res betref, kan ’n mens reeds ’n idee kry van waarheen die ontwerpers mik.
Die vooraansig gaan die klassieke voorkoms behou met die groot, ronde hoofligte en vertikale neus en sierrooster wat oorheers.
Ook opvallend is die kort oorhange voor en agter. Dan is daar ook die snorkel, dakrak, regop voorruit (wat in die Sport se geval vorentoe platgeslaan kan word soos van ouds) en wenas op die voorbuffer wat dadelik opval.
Binnelangs het Land Rover sy tweedegeslag-Terrain Response-stelsel in die nuwe konsepmodelle geïnstalleer. Dis nou daardie ronde knop wat jy reeds in die Discovery, Freelander en Range Rover aantref.
Die knop het ’n rits opsies waarvan jy kan kies. Elke prentjie soos dié vir sand, klippe, modder, sneeu en snelweg maak dat jou motor die beste vir daardie toestande verstel word, maar sonder dat jy self elke liewe veranderlike moet gaan verstel.
Pleks dus dat jy self laestrek aktiveer, die ryhoogte hoër stel en die petrolpedaal se sensitiwiteit aanpas, doen die blikbrein sommer als vanself.
Die konsepmodelle het ook ’n nuwe funksie op die spyskaart, naamlik ’n waterry-funksie. Kies jy dié, sal die ryhoogte hoër raak, die luginlate word vanself toegemaak sodat die water nie kan instroom nie, laestrek word gekies en ’n sonarstelsel (in die voorbuffer en kantspieëls) sal voortdurend vir jou wys hoe diep die water is.
Nog ’n nuttige speelding is die Terrain i-stelsel wat die topografie (of dan oppervlak) van die area voor jou beter help aandui. Dit werk met kameras en ’n infrarooi-stelsel om enige versteekte hindernis te kan opspoor.
Land Rover wou nog niks sê oor watter enjins hy gaan inspan nie, maar die twee DC-konsepmodelle het elk ’n permanentevierwiel-aandryfstelsel, wat aan ’n agtgang- outomatiese ratkas gekoppel is.
Die aandrywing kan ook net na die voorwiele gestuur word as jy byvoorbeeld op ’n teerpad ry om te help met brandstofbesparing.
Die voertuie het ook ’n stop/ry-stelsel (die enjin skakel vanself af as jy stilhou en skakel weer self aan wanneer jy wegtrek) om te help met verdere besparing.
Land Rover sê hy hoop om die volgende generasie Defender teen die middel van die dekade markgereed te hê.
Dis om die draai, so hy sal sy litte moet roer as hy betyds gereed wil wees. Maar sy planne lyk baie belowend.

Land Rover se Defender-konsepmodelle ... Hulle is pas op die Los Angeles-motorskou uitgestal en dit kan die rigting wees waarin hy met dié ikoniese 4x4 beweeg, sê Land Rover.
- Beeld