Prakties, maar nie gesofistikeerd
2011-11-24 10:01
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Kyk, hier is nou vir jou ’n lelike eendjie wat ongelukkig nie in ’n mooi swaan gaan verander nie.
Hoe gouer ’n mens oor Toyota se Innova se “visuele aanslag” praat, hoe gouer kan ’n mens aanbeweeg. Jip, dis ’n aanslag, want maak nie saak uit watter hoek jy die Innova beskou nie, dit bly ’n lelike voertuig. Kollegas het selfs die woord grusaam gebruik …
Maar dis ’n Toyota, wat beteken bloot die fabrikaat se naam van goeie en betroubare produkte behoort heelparty mense verby die voorkoms te laat kyk en dit aan te skaf.
Die Innova het ’n mens dadelik aan ander lelike Toyotas soos die Venture, Condor en Avanza laat dink.
Die Innova is ’n effens anderse veeldoeler as die meer gesofistikeerde (en baie mooier) Verso, byvoorbeeld. Die blote feit dat die onderkant van die Innova van Toyota se fenomenale Hilux afkomstig is, verleen daaraan ook ’n – mag ’n mens dit maar sê? – sportnutskarakter.
Hy is hoog van die grond af, aandrywing geskied deur die agterwiele en daar is ’n Hilux 2,7 liter (118 kW/241 Nm) VVTi-enjin onder die enjinkap.
Binne is daar natuurlik die veelsydigheid om tot agt mense hul sit te laat kry in van die vele moontlike sitplekkombinasies. Daar is twee modelle beskikbaar – in een kan agt sit en in die ander sewe.
Die enjin het genoeg woema, maar as jy met ’n vraggie in die petrolpedaal begin vastrap, eis dit natuurlik sy tol by die petrolpomp en die enjin is nie van die stilstes nie. Ek reken Toyota se 2.5 dieselkragbron sal nie ’n slegte roep vir die Innova wees nie.
Die Innova ry nie lekker nie en alhoewel hy minder as ’n Hilux of Fortuner skud en ruk, is dit steeds nie ’n gesofistikeerde ritgehalte nie. Deur draaie is daar baie bakleun en ek sidder oor die outjie se gedrag as jy nie versigtig op ’n nat pad of grondpad is nie. Goed, in alle regverdigheid, daar is ’n elektroniese stabiliteitsprogram wat baie help.
Wat wel beïndruk het, is die instrumentuitleg, wat baie trek op dié van die Fortuner en Hilux en heel gevat lyk met ’n tikkie byderwetsheid en steeds baie funksioneel is. Elke denkbare luukse is daar, van ’n USB-koppeling tot ’n aanraakskerm waarop talle funksies soos die radiostasies verander kan word om net enkeles te noem.
Ruimte is meer as genoeg en die sitplekke is betreklik gemaklik. As jy nie die derde ry sitplekke gebruik nie, is daar ’n massiewe laairuim.
Ongelukkig vou die derde ry se sitplekke nie netjies plat soos in die nuwer geslag veeldoelers nie en sit jy maar daarmee opgeskeep.
Toyota het ’n sekere mark met die wa in gedagte soos byvoorbeeld pendelvoertuie vir die toerismebedryf, die taxibedryf en vir gesinne wat nie (amper sê ek nie oor voorkoms omgee nie) R300 000 op ’n moderne veeldoeler wil bestee nie.
Ek weet Toyota kan sulke voertuie bou, die vraag is, moet hulle?
- Die model met sewe sitplekke kos R265 500 en die een met agt sitplekke R249 700.
- 3 uit 5

Geen ontwerppryse vir die nuwe Toyota nie. Funksionaliteit oorheers nie vorm nie, dit oordonder dit. Die Innova se sterk punte is sy praktiese aard, goeie toerustingvlak en vir sommige sal die 2,7 liter-enjin ’n bonus wees.
Gesels saam op
Facebook en volg Beeld op
Twitter.