Nuwe Lexus smeek vir lepel se tráp
2011-12-15 09:49
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Gedink die Lexus is net luuks en jy kan hom maar met gemoedsrus in jou vuurwa die stryd aansê in ’n 0 tot 100 km/h- sneltoets?
Dink weer, want daardie dae is lank reeds verby.
Hy lyk dalk steeds nie soos ’n sportmotor nie, maar bloot ’n luukse gesinsmotor vir die sakeman of -vrou wat al iewers naam vir hom of haarself gemaak het, is hy nie meer nie.
Daarvoor sorg die nuwe, kragtiger en sportiewer Lexus IS 350, wat pas in Suid-Afrika bekend gestel is en waarvan twee modelle beskikbaar is; albei met ’n outomatiese sesgang-ratkas met handspane langs die stuurwiel vir as jy vinnig van rat wil verwissel.
Want dit sal jy graag met hierdie motor wil doen. Sy hantering is uitstekend en daar is oorgenoeg krag om met groot veiligheid blitsig verby te kan steek – of ’n moontlike noodsituasie te hanteer.
Die groot verskil tussen die “nuwe” Lexus IS 350 en die “ou” Lexus IS 250 is die emmersvol krag onder die enjinkap, jong man.
Ja, die IS 250 was, en is, reeds ’n gehaltemotor in alle opsigte – van bestuursgerief tot kraglewering van 153 kW teen 6 400 r/min. en wringkrag van 252 Nm teen 4 800 r/min.
In die nuwe IS 350 se twee modelle, die EX en die LE, is die kraglewering opgeskuif na 233 kW teen 6 400 r/min.; met wringkrag van 378 Nm teen 4 800 r/min. Die IS 350 se versnelling van 0 tot 100 km/h geskied in 5,6 sek. (beter as dié van die BMW 335i en die Mercedes C350) en sy topsnelheid is 230 km/h teenoor die 8,1 sek. en 225 km/h onderskeidelik van die IS 250.
Daarby het die IS 350 ’n 3,5 liter- V6-petrolenjin teenoor die IS 250 se 2,5 liter-V6-petrolenjin.

Die IS 350 is dus onder die enjinkap ’n veel kragtiger voertuig, wat sorg vir ’n sportiewer gevoel wat by veral die jonger sakelui (en nog jappies) aanklank sal vind. Die IS staan nie verniet vir “intelligente sport” nie.
Maar dit is nie net die sterker perde wat besonders is nie.
Die Lexus bou voort op sy hoë standaard van bestuursgenot en uitstekende hantering in aangename omstandighede in die binneruim.
Die EX-modelle is onder meer toegerus met 17 dm.-allooiwiele, elektriese sitplekke, ’n sogenaamde slimstelsel vir aanskakel, snelheidsbeheer en satellietnavigasie.
Die SE-modelle het onder meer 18 dm.-allooiwiele, ’n sogenaamde maandak, onthoustelsel vir sitplekposisies, sitplekverwarmers en -verkoelers, reën-sensitiewe ruitveërs en ’n elektries beheerde stuurkolom.
Die IS 350 se onderstel is ontwerp vir die beste balans en padhouvermoë, hantering en lae geraasvlak. Dit was inderdaad die ervaring tydens die bekendstelling op ritte oor die Outeniqua- en die Robertsonpas tussen onderskeidelik George en Oudtshoorn en Oudtshoorn en Mosselbaai.
Die IS 350 is verder toegerus met onder meer Lexus se gehalteklankstelsel, USB-punte en Bluetooth-toerusting. ’n Veeldoelige skerm in die middel van die paneelbord vertoon die satel- lietnavigasiestelsel, kamera om agter die motor te kan sien wanneer in trurat beweeg word en die kontroles vir die lugreëling en oudiostelsel, wat uit 13 luidsprekers bestaan.
Klimaatbeheer is nog ’n stukkie standaardtoerusting; met afsonderlike kontroles vir die bestuurder en voorste passasier.
Die veiligheidstoerusting is uitstekend en ABS, EBD en BA (remhulp) is standaard, sowel as Lexus se VDIM-stelsel, wat sorg vir gebalanseerde koördinering van die voertuig se stabiliteitsbeheer-, traksiebeheer- en elektroniese- kragstuurstelsels.
Moeg vir jou Audi, BMW of Mercedes? Genoeg geld in die bank? Dan kan jy maar ’n toetsrit bespreek. Dis nou as die voorkoms nie te “ouerig” vir jou is nie.
Kyk net wat is die Lexus IS 350 se belangrikste mededingers: Die Audi A4 3.2 Quattro, die BMW 335i en die Mercedes C350.
Volgens Lexus is hierdie motors wel goedkoper as die IS 350, maar dit sal ’n bykomende R72 410, R64 200 en R63 000 onderskeidelik kos vir opsionele toerusting om uiteindelik by die IS 350EX kers vas te kan hou. Daar het jy dit.
Lexus IS 350 EX – R499 700;
Lexus IS 350 SE – R548 600
Al Lexus se modelle het ’n 4 jaar/100 000 km- waarborg en ’n verskeidenheid versieningsplanne.

Die IS 350 … Ontwerp vir die beste balans en padhouvermoë, asook vir uitstekende hantering.
- Beeld