Groener 208 is nuut van binne
2011-11-24 10:01
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Peugeot se nuwe Fiesta/Polo-mededinger maak vroeg in die nuwe jaar sy opwagting en behoort teen die tweede helfte van 2012 in Suid-Afrika te wees.
Die nuwe Peugeot 208 is die opvolger van die huidige 207 wat reeds ’n paar dekades gelede die lig gesien het toe met die 205-reeks afgeskop is.
Peugeot beloof dat die nuweling sommer heelwat byt gaan hê en uit die staanspoor in drie- en vyfdeur-bakweergawes beskikbaar sal wees.
En ruimer mag hy miskien wees, maar nie swaarder of langer nie.
Volgens Peugeot is die nuwe 208 gemiddeld 110 kg ligter as die 207 en in sommige modelle sowat 173 kg ligter as die model wat dit vervang. Die model in die reeks wat die minste weeg, trek die die skaal op net 975 kg.
Die poging om gewig af te skud moet die ligtelik opgeneem word nie, want gewig is ’n vyand van brandstofverbruik, wat weer uitlaatgasse, hantering en ritgehalte beïnvloed, seg Peugeot.
Ook wat buiteafmetings betref, is die snoeiskêr behoorlik ingelê. Die 208 is 7 cm korter as sy voorganger en 1 cm laer en tog is daar 5 cm meer beenruimte en 15 cm3 meer ruimte in die bagasiebak.
Van buite trek die 208, veral van voor, sterk op sy 508-ouboet en agter is die boemerang-lighulse die uitstaande stileerkenmerk. Ons sal volstaan met “atletiese lyne wat energie uitstraal” as ’n mens nou nie te ver deur ’n ooraktiewe skrywer van Peugeot se mediaverklaring meegevoer wil raak nie.
Binne, sê Peugeot, is vars begin met ’n splinternuwe ontwerp van die instrumentasie en kontroles.
Die stuurwiel is klein en sportief en ’n opwipskerm met aanraak-funksionaliteit maak deel van die instrumentasie uit.
Daarby sal venstervertoon van die belangrikste inligting teen die voorruit weergee in sommige van die modelle.
Die 208 is nie net ’n nuwe mooi gesiggie nie, maar baie aandag is aan die kragbronne gegee om dit meer ekonomies te maak en laer uitlaatgasse te bewerkstellig.
Die gemiddelde uitlaatgasvrystelling is sowat 34 g/km laer in die nuwe 208-reeks in vergelyking met die 207-reeks.
Daar is tans vyf modelle in die reeks waarvan vier met ’n stop-ry-stelsel toegerus is. Die mees ekonomiese dieselenjin in die reeks se gemiddelde verbruik sal net 3.4 liter/100 km wees met ’n uitlaatgassyfer van net 87 g/km. Daarby kom ook nuwe petrolenjins met ’n kapasiteit van 1 000 en 1 200 cc. Albei enjins het net drie silinders. Die 1 liter-model se verbruik sal so laag as 4.3 liter/100 km wees met ’n uitlaatgassyfer van 99 g/km.
Peugeot neem die hele groen-gedagte nog ’n stappie verder en sowat 25% van die materiale wat ingespan word, is herwin of van natuurlike oorsprong.
So byvoorbeeld is die agterste buffer deel van die 25% materiale ter sprake en sal dit die vervaardigingsaanleg sowat 1 600 ton aan brandstof bespaar.
Die pryse en modelreeks wat vir Suid-Afrika bestem is, is nog nie bekend gemaak nie.
Peugeot se nuwe 208 is volgende jaar hier.

Gesels saam op Facebook en volg Beeld op Twitter.