Wiele aan die rol vir pad
2010-06-25 11:35
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
DIE grenspad tussen die Vrystaat en Lesotho word reeds herbou en die nuwe grensheining gaan eersdaags begin herrys.
Nadat Vrystaatse boere dekades lank vir dié heining gesmeek het, gebeur dinge skielik vinnig. Net dae ná die skikking tussen Vrystaat Landbou (VL) en die regering oor die grenssaak rol die wiele reeds.
Regter A. Kruger het die skikking ’n bevel van die Vrystaatse hooggeregshof gemaak ingevolge waarvan die regering sy grondwetlike rol gaan vervul om die boeregemeenskappe te beskerm.
Die staat se padskrapers is reeds aan die spook om die grenspad te skraap. Die eerste R5,5 miljoen vir die eerste 107?km van die nuwe heining van die Caledonrivier by Wepener tot by die Kornettspruit by Zastron, is ook deur die nasionale departement van landbou goedgekeur en is van Julie beskikbaar, lui die hofstukke.
Grensboere gaan R50 000/km betaal word om self die nuwe grensheining te bou. Dit sluit die koste van die materiaal en arbeid in. VL en die ander aansoekers het ingestem dat die departement die grensplase kan opmeet, wat die geld aan die boere sal uitbetaal.
’n Projekspan in die departement sal teen 10 Julie op die been gebring word. Elke boer op die grens moet by die departement geregistreer word. Nadat die plaasgrens opgemeet is, sal ’n aankoopbewys aan die boer uitgereik word.
Bewysstrokies vir die aankoop van materiaal sal aan die projekspan voorsien moet word. Die geld sal binne vyf dae oorbetaal word nadat die strokie geverivieer is, lui die hofstukke.
Die departement van polisie, paaie en vervoer in die Vrystaat het onderneem om die hele grenspad van Zastron tot Qwaqwa te herstel sodat dit met viertrek-voertuie gery kan word.
Die grenspad in die Motheo-, Gariep- en Thabo Mofutsanyana-gebiede sal teen 31 Julie met viertrek-voertuie gery kan word. Die partye het ooreengekom om gereeld terugvoer op vergaderings oor die grenssituasie te gee.