‘Verlore seun’ uit Australië verwelkom
2010-05-03 15:49
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
EEN van die Vrystaat se “verlore seuns”, prof. Brian Roberts (76), is dankbaar hoe hy hier met ’n kuier ontvang is.
Roberts, oud-hoof van die departement weidingkunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), is sedert 1975 ’n akademikus in Australië.
Met sy besoek aan die Vrystaat het hy by ’n informele geleentheid, wat in die UV se landbougebou deur prof. Hennie Snyman, huidige departementshoof, gereël is, sy herinneringe met oud-studente en -kollegas gedeel.
Op hul beurt het hulle hom geloof vir sy blywende invloed by wyse van onderrig, navorsing, landboutoere en diep gesprekke om kampvure wat hul visie ten opsigte van bewaringsboerdery en die toekoms van landbou positief beïnvloed het.
Roberts is ’n afstammeling van die 1820-Setlaars. Ná 36 jaar in Australië praat hy steeds vlot Afrikaans. Hy het selfs die Oukraalliedjie met oorgawe gesing terwyl hy homself op mnr. MC Fourie, ’n oud-student, se kitaar begelei het.
Roberts skroom nie om te sê dat hy van sy beste jare in die Vrystaat deurgebring het nie. Hy het baie mooi herinneringe van sy 20 jaar as landboukundige in die Vrystaat. Hy het sy waardering uitgespreek oor die wyse hoe hy as “verlore seun” tydens sy huidige besoek ontvang is.
Hy het ook met bewaringsboere soos mnr. Chris Richter van Bloemfontein gewerk. Hy onthou mev. Marietjie Richter se Leeukop-melktert wat een van die plaasbesoeke se hoogtepunte was, só ook die bewaringsboeredag wat op ’n oud-student, mnr. Gideon van Tonder, se pa, Andries, se plaas by Sannaspos aangebied is.
Mnr. Gert Botha, ’n oud-student en boer van Trompsburg, het teenoor Roberts sy waardering uitgespreek oor die wyse wat hy hom as student oor bewaringsboerdery touwys gemaak het. Dit het boerdery vir die 42 jaar wat hy boer ’n avontuur en ’n ontdekkingsreis gemaak. “Jy het vir my mening en iets om na te streef gegee.”
Mnr. Wikus Vorster, weidingskundigekollega van Roberts, het verwys na die suksesvolle toepassings van weidingstelsels deur bewaringsboere waarby ook voorligtingsbeamptes betrokke was.
Roberts staan in Australië as die “vader van LandCare” bekend. Sy betrokkenheid by LandCare het die gevolg dat daar ongeveer 5?000 LandCare-projekte wêreldwyd deur boerekomitees bedryf word, ook in Suid-Afrika.
Roberts het die hoop uitgespreek dat die toekoms van Suid Afrika “reg” sal uitdraai vir almal. Hy is van mening dat die oplossing meer lê by maatskaplik-ekonomiese bydraes sonder om die tegniese bydraes tot voedselsekerheid na te laat.
Sy waarneming is dat die onsekerheid oor die sekuriteit van besitreg vir boere ’n probleem is. Hy het landboukundiges en die jonger geslag aangemoedig om die nodige inisiatief te neem en positief op te tree om die probleme rakende landbou aan te pak, sodat werkbare oplossings daarvoor gevind kan word.