SA baanbreker met kode
2010-06-25 11:35
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
GARIEPDAM. – Baanbrekerswerk word in Suid-Afrika verrig met die opstel van ’n internasionale kode van beste praktyk vir die kleinveebedryf waarvolgens natuurlike vesel geproduseer kan word.
Só is boere op die kongres van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) hier ingelig.
Die oogmerk hiermee is om veral die bewaringsbewuste groeperinge én die verbruiker in te lig dat die wol, bokhaar en vleis wat hy koop, ingevolge ekonomiese en ekovriendelike standaarde geproduseer is.
Dit volg nadat die plaaslike wolbedryf reeds ’n soortgelyke strategie opgestel en sy lede dit onderskryf het.
Mnr. Harry Prinsloo, ondervoorsitter van die NWKV, het in Mei die beginsels dat die Suid-Afrikaanse skaapboer volgens ’n kode van beste pryktyk wol en vleis met liefde en toewyding produseer, aan die Internasionale Wol- en Tekstiel-organisasie (IWTO) in Frankryk voorgehou.
In sy voordrag voor ’n dierewelsynskomitee van die IWTO, onder voorsitterskap van die NWKV-voorsitter, Petrus de Wet, het Prinsloo gesê dit is belangrik dat plaaslike wolboere besef hulle maak deel van ’n wêreldgemeenskap uit.
“Ons voer 98% van ons wol uit en sal aan sekere internasionale standaarde moet voldoen. Ons voldoen eintlik reeds daaraan, maar dit is van belang om ten volle die vereistes vir organiese en ekovriendelike produksie te onderskryf om uit die terugswaai na natuurlike vesel voordeel te trek,” het dié wolboer van Smithfield gesê.
Die eerste Witskrif van die dokument moet voor 12 November vanjaar ingedien word vir bespreking tydens die tussentydse vergadering van die IWTO in Italië, waarna die Federasie van Landbou-organisasies (FAO) en die Europese Unie (EU) kommentaar kan lewer.
Die insette van Australië en ander wolproduserende lande word ook in die Witskrif verwerk.
Prinsloo sê dit is frustrerend dat die bewaringsbewustes nie die bona fides van die Suid-Afrikaanse produsent aanvaar dat hy net optree in die belang van sy diere, hulle beskerm teen diere wat skade veroorsaak en hulle onder die bes moontlike toestande aanhou nie.
“Hulle wil ons die hele tyd onder druk plaas oor praktyke soos die onthoring van beeste, kastrering en ook sterte afsny van skape, wat vir die boer wat betref sy roetine-bedrywighede op die plaas ’n wesenlike probleem skep.”
Wat die kleinveeboer die bewaringsbewustes aan die verstand wil bring, is dat roofdiere ’n geweldig negatiewe uitwerking op die wol- en vleisproduksie het, wat voorts die ekonomie verder benadeel.
Die aanvaarding van die kode deur die EU, die FAO en die Wêreld-organisasie vir die beskerming van diere (World Protection of Animals) kan meebring dat produsente meer leefruimte in hul plaaspraktyke gegun sal word.
Die mules-prosedure waarvolgens van die velvoue van Australiese skape ontslae geraak word, is op dié tydstip een van die brandpunte wêreldwyd.
Prinsloo sê die plaaslike bedryf kan homself gelukkig ag dat dié praktyk nie hier toegepas word nie.
Hy sê die fokus van die bewaringsorganisasie begin verskuif na die afsit van sterte en kastrering van skape en die onthoring van beeste.
“Dit is praktyke wat hier te lande plaasvind en ons sal binne die kode van beste praktyk moet aandui hoe dié prosesse bevredigend uitgevoer word.
Ná evaluering sal produsente hul praktyke moet aanpas.”