Landbou bekommerd oor politici se uitlatings
2010-06-25 11:35
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
UITLATINGS van politici oor grond maak die landbou ernstig bekommerd oor die moontlike oormatige regulering deur die staat wat markbeginsels sal ondermyn, sê Agri SA.
Mnr. Johannes Möller, president van Agri SA, het in ’n skerp bewoorde verklaring die regering se planne met die beplande Groenskrif oor grondhervorming bevraagteken. Die organisasie het gevra vir indringende gesprekke met die regering hieroor.
“Dit is in niemand se belang nie, veral nie dié van armes, om drastiese maatreëls vir grondhervorming daar te stel wat vertroue kan skend en voedselsekerheid in die gedrang mag bring nie,” lui sy verklaring.
“Gebreke in die inwerkingstelling van die bestaande beleid moet eerder reggestel en vennootskappe met die private sektor gesluit word om volhoubare en versnelde grondhervorming te verseker.”
Hy het kommentaar gelewer op uitlatings van pres. Jacob Zuma en ander regeringswoordvoerders die afgelope drie maande oor veranderde beleid waarmee meer aggressief en fundamenteel gevorder wil word met versnelde grondtoegang vir voorheen benadeeldes.
Volgens Möller is administratiewe onbeholpenheid met die uitvoer van grondbeleid die hoofoorsaak dat die regering nou radikale veranderings aan sy beleid oorweeg om sodoende die ANC se Polokwane-resolusies oor versnelde grondhervorming uit te voer.
Hoewel mnr. Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, dr. Joe Phaala, adjunk-minister, en me. Tina Joemat-Pettersson, minister van landbou, bosbou en visserye, gesê het dat daar met Agri SA gekonsulteer word, was daar volgens Möller nie konsultasie nie en het die regering beleidshersiening as ’n interne proses gehanteer.
Agri SA is bekommerd dat konsultasie ná die publisering van ’n Groenskrif oor hierdie belangrike en hoogs emosionele saak min beweegruimte vir veranderings kan laat. ’n Groenskrif verteenwoordig tewens die wel oorwoë mening van die regering.
“Uitlatings van politici maak ons dus ernstig bekommerd oor moontlike oormatige regulering deur die staat wat markbeginsels sal ondermyn. Dit sou beter wees indien die Groenskrif eers die lig sou sien nadat daar beter konsultasie met belanghebbendes in die grondmark was, om sodoende vertroue nie onnodig te skok tot nadeel van voedselsekerheid en ekonomiese vooruitgang in die algemeen nie,” aldus Möller.
Agri SA sê hy het verskeie beleidsdokumente die lig laat sien waarin grondhervorming ondersteun word.
Die organisasie stel ordelike transformasie binne ’n wetlike raamwerk en ondersteun deur toereikende finansiering en ander bystand as voorvereistes.
Omdat grondhervorming ’n nasionale uitdaging is, het die organisasie ook ’n sterk standpunt dat dit nie tot selektiewe benadeling van bestaande grondeienaars deurgevoer mag word nie, maar dat die fiskus die koste daarvan gebalanseerd moet verhaal.
Teen dié agtergrond het Agri SA vorige aanbiedinge herhaal dat hy dringend en in diepte met die regering in gesprek wil tree oor die uitskakeling van knelpunte met die proses van grondhervorming.
Agri SA verwag ook dat ander sektore van die ekonomie hierdie proses ten nouste sal volg omdat dit aanduidend is van hoe die regering die Grondwet se bepalings oor eiendomsreg in die algemeen interpreteer en respekteer, asook konsulteer oor fundamentele veranderings oor beleid in dié verband.