KM help SA se wolboere
2010-05-03 15:49
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
KONSORTIUM-MERINO se droom, om sy boere deel te maak van die waardeketting van sy produk, kry nou deur sy eie voerkraal gestalte.
Die eerste 400KM-lammers is einde Januarie by die Konsortium-Merino-voerkraal op Christiana afgelaai en nog 400 het einde Februarie gevolg.
In díe proeffase word die regte rantsoen, vloei en bestuur uitgesorteer. KM bestaan reeds uit 124 merinoboere oor die land heen met altesaam 193?466 produserende ooie – ooie wat gepaar word of gelam het.
Mev. Madelaine van Heerden, media- en bemarkingshoof, sê as die kraal volstoom werk, sal dit tot 20?000 lammers vier keer per jaar kan hanteer.
KM-boere sal aanvanklik die keuse hê om of sy stoorlam aan die voerkraal te verkoop of die voerkraal vir staan- en voerkoste te vergoed (kontrakvoer) wat van die slagprys verhaal sal word.
“Ons wil uiteindelik ons vleis uit die kraal onder ons handelsmerk op die winkelrak verkoop. Om dit reg te kry het Konsortium-Merino in 2009 die land deurkruis om voerkrale bewus te maak van die groep en die eenvormige gehaltelam wat lede produseer,” sê sy.
Terselfdertyd is KM se potensiaal aan groothandelaars en supermarkte voorgelê om ’n potensiële vraag na sy produk te skep.
Sy sê die span het geleer die vleisbedryf stoei om ’n volhoubare produk van gehalte te werf.
Swak produkte word vir goeie geld verkoop.
Die Nagiah’s-groep, met sewe slaghuise in Gauteng en Durban, het KM se eerste 352 karkasse gekoop vir sy slaghuis in Midrand en KM-vleis gaan die eerste keer onder sy eie handelsmerk deur die groep in sy slaghuise verkoop word.
“Hulle verkies ons natuurlike lam van die veld af en dit word reeds so aan hulle bemark. Maar om voortaan volhoubaar te kan voorsien gaan die voerkraal in Christiana nuttig te pas kom. Nagiah’s benodig sowat 400 karkasse per week vir sy Midrand-slaghuis en 3 000 tot 4 000 per week vir al sewe slaghuise.
Van Heerden sê sedert die bekendstelling van die alternatiewe wolbemarkingsroete ’n jaar gelede, wat KM vir sy boere beding het, het KM-boere reeds meer as R445 000 aan wolbemarkingskoste gespaar deur sy wol aan Segard Masurel te lewer.
Sowat 8% van die wol is regstreeks aan SMZA gelewer vir verwerking in sy meule in Uitenhage en 92% is op die SMZA-veilings aangebied en uitgevoer.
Van Heerden sê KM se goedkoper prys vir wolsakke het tot gevolg gehad dat die makelaars hul pryse verlaag het. As in ag geneem word dat sowat 320000 sakke per jaar verkoop word, teen R40 goedkoper per sak, het KM vir wolboere landwyd ’n besparing van bykans R13miljoen net aan wolsakke tot gevolg gehad.