Brahman, die ras sonder grense – telers
2010-06-25 11:35
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
DIE ras sonder grense. Só beskou die brahman-telers in Suid-Afrika dié bul van ’n beesras.
Die Brahman-beestelersgenootskap sê geen ras in Suid-Afrika beskik oor soveel suiwer soorte binne homself as die brahman nie.
Erkenning in besonder word ook gegee aan die wit en rooi soorte binne die ras.
Tot ’n mindere mate word die Indu-Brazil, Gir, Nellore of selfs die Guzerat vandag in die land aangetref. Die somtotaal van hierdie wetenskaplik aanvaarde variasie gee aan iets waarop geen ander ras kan roem nie nuwe betekenis – naamlik begrippe soos heterose (basterkrag), erfdwang, aanpasbaarheid en in besonder moedereienskappe.
Om die kroon te span het die brahman wêreldwyd ’n metamorfose veroorsaak deurdat “rasbeheptheid” daartoe aanleiding gegee het dat verskeie “nuwe rasse” gegenereer is vanuit die brahman.
Dit is kenmerkend ’n spontane reaksie wat moes volg toe ander rasse veral die afgelope dekade hul markaandeel verloor en die komplimentêre faktor van die brahman moes gebruik om deel te word van die zebu-familie wat by uitstek veral geskik is vir Suid-Afrikaanse toestande, sê die genootskap.
Die suiwerheid van die brahman en sy uniekheid wat geneties deur sy progressiewe telerskorps en interaksie oor die hele wêreld in stand gehou en voortdurend bevorder word, plaas hom voor ’n nuwe uitdaging as die “ras sonder grense”.
Brahman-stoettelers se “beste diere” (genetiese materiaal) pas vandag in by die biologiese omgewing, produksiestelsels, bestuurspraktyke en ekonomiese omstandighede van die kommersiële sektor.
Die frekwensie van gene waaruit die kommersiële sektor die meeste voordeel kan trek wat betref produktiwiteit en winsgewendheid, word deur die genootskap deur sy benutting van Breedplan as genetiese evalueringstelsel waaruit BLUP-ontledings vir teelwaardes beraam word, gedoen en voortdurend uitgebou.
Die volgehoue seleksie en in besonder die advisering van telers oor faktore vir seleksiedoelwitte, geniet voorkeur in die genootskap om tred te hou met moderne teeltegnieke en die boer só te posisioneer dat doeltreffendheid altyd voorrang geniet.
Dat die brahman nie in kompetisie staan met ander rasse nie, maar rasse eerder komplementeer, spruit verder voort uit sy genetiese uniekheid.
Die genootskap sê sedert die brahman die eerste keer op die toneel verskyn het in 1954 en sy invloed in die kommersiële vleisbeesboerdery as’t ware ’n euforie onder elke progressiewe boer tot gevolg gehad het, is die resultaat van die verskynsel vandag so gevestig, dat die woord brahman sinoniem geword het met suksesvolle rooivleisproduksie.