’n Cheetah deur en deur
2011-06-19 12:07
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
DIE Ystervrou van Suid-Afrikaanse sport.
Die Margaret Thatcher van rugby in ons land.
Gerda van Solms glimlag breed wanneer jy van haar praat as die magtigste vrou in Suid-Afrikaanse rugby. Daardie breë glimlag wat jy die afgelope klompie dekades leer ken het. Jy wonder of sy ooit sonder daardie glimlag is... selfs wanneer dit nodig is om iemand die Leviete weens ’n oortreding voor te lees.
Die breë glimlag wat jy die afgelope dekades so goed leer ken het.
Ons gesels in haar kantoor in die A.K. Volsteedt-gebou in die Vrystaat-stadion waar sy van ’n jong tikster gevorder het tot die vrou wat rugby in die Vrystaat met ’n sagte, dog ferm hand bestuur.
Sy is die eerste en enigste vrou in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse rugby wat die vername pos beklee.
“Ja, dit is moeilik. Maar ek het gelukkig baie goeie leermeesters gehad. Mense wat die spel met oorgawe en toewyding gedien het. Hulle was altyd daar om jou hand te vat,” vertel sy.
“Ek sal nooit daardie eerste keer vergeet toe ek by ’n vergadering van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie in Kaapstad ingestap het nie. Die voorsitter was Rian Oberholzer, skoonseun van dr. Louis Luyt, grootbaas van SA Rugby.
“Jy verbeel jou nogal jy weet wat aangaan, want jy is immers die uitvoerende hoof van een van Suid-Afrika se toetsunies.
“Maar toe ek so om my kyk en al die grotes van Suid-Afrikaanse rugby hier om my sien sit, het ek omtrent aan die bewe gegaan, maar hulle was wonderlike mense en het my dadelik tuis laat voel.”
Nou is dit heel anders en staan die manne op wanneer Gerda by die vergadersale instap... steeds met daardie innemende glimlag op haar gesig. Elke man in die saal weet dat sy rugby in die algemeen en die Vrystaat en die Cheetahs in die besonder dien.
Al wanneer sy ongedurig raak, is wanneer mense die Cheetahs en die Vrystaat se rugby veroordeel.
“Mense is so geneig om die Vrystaat te veroordeel en te kleineer. Hulle vergeet ons is die kleinste van al die toetsunies. Daar is selfs van die sogenaamde kleiner unies wat groter as ons is. Dit is die getal toeskouers en ondersteuners in die algemeen wat jou lot bepaal.
“Almal weet Johannesburg, Pretoria en Kaapstad is baie groter as Bloemfontein en nou probeer hulle ons met Durban vergelyk. Jou seisoenkaartjiehouers bepaal in ’n groot mate jou steun. Ons het 150 losies wat jaarliks verkoop word. KwaZulu-Natal het 300. Ons het 8000 seisoenkaartjiehouers, KwaZulu-Natal het 28000.
“Hoeveel rugbymense bly in die groter Durban en omgewing en hoeveel in Bloemfontein?
“Beoordeel ons prestasies daarvolgens en jy sien ’n ander prentjie.”
Die Stormers het waarskynlik ses klubs teenoor elke een van die Vrystaat.
Sy sal ook nooit die skeidsregter, soos nou onlangs, veroordeel nie. “Ons maak almal foute,” sê sy. “Sulke dinge gebeur maar.”
Gerda sê haar lewe as administrateur van Vrystaatse rugby is eintlik een groot hoogtepunt. “Dit is baie moeilik om die grootste hoogtepunte uit te sonder, maar twee sal my altyd bybly. Die eerste was toe ons in 1976 die Curriebeker gewen het deur die Westelike Provinsie te klop. Dit was die begin van ons goue jare.
“Dieselfde jaar het ons ook die toetswedstryd tussen Suid-Afrika en Nieu-Seeland aangebied. Ons was net ’n handjie vol werkers, maar alles het vlot verloop. Ons moes nog self die kaartjieverkope behartig. Vandag kan jy oral in afdelingswinkels kaartjies koop.”
Sy sê dit was maklik om van die begin af by die unie in te skakel, “want ek het van die beste leermeesters gehad. Neels Neuhoff, toe sekretaris van Vrystaat-rugby, was ’n ongelooflike harde werker. Hy kon alles doen en hy het my gehelp om eers my voete te vind en algaande selfvertroue te kry.
“Steve Strydom was president van die Vrystaatse Rugby-unie. Hy was ’n deurwinterde rugbymens wat altyd oral gehelp het.”
Sy sê die afgelope amper twee dekades het Harold Verster ook getoon hy is ’n rugbyman in murg en been.
“Wanneer ’n mens so lank met die spelers saamwerk, leer jy hulle baie goed ken. Jy weet van die hartseer en die pyn. Dit maak ons ’n hegte familie.
“Ek sal altyd ’n sagte plekkie vir Edrich Krantz hê. Ons is vriende sedert ons saam in sub A (gr. 1) was. Gysie Pienaar, Gerrie Sonnekus, Gerrie Germishuys, De Wet Ras... ag, sommer almal was my gunstelinge.”
En dan was daar Martiens le Roux. Dié Springbokstut is oorlede in ’n motorongeluk die aand ná ’n toetswedstryd in die Vrystaat-stadion.
“Al die reëlings vir die wedstryd het vlot verloop. Die Maandagoggend het ek in die kantoor gesit toe Martiens se seun, Nicolaas, daar opgedaag het met ’n bos blomme en dit aan my oorhandig het. Hy het gesê: My pa se laaste wens was dat ek vir Tannie die blomme moet bring om dankie te sê vir alles...”
Gerda is ’n Bloemfonteiner in murg en been. Sy is hier gebore en het nog nooit ’n begeerte gehad om te verhuis nie.
Haar pa is genoem na een van die manne wat diep spore in Suid-Afrika se geskiedenis gelaat het. Hy is James Barry Munnik Hertzog van der Westhuizen gedoop.
Dit was by haar pa dat Gerda ook ’n liefde vir rugby gekry het. Elke week wanneer sy haar sakgeld gekry het, het sy plakboeke gekoop en foto’s en inligting ingesamel van al die bekende spelers van daardie jare.
“Ons het in Rodenbeck gewoon, maar later na Noordeinde verhuis waar ons in Extonweg gewoon het. Dit was naby die Sentraal-skool en ek was daar van gr.1 tot matriek.” Sy het as skoolmeisie op die netbalbaan (as hulpdoel) uitgeblink.
Ná skool is sy na die Universiteit van die Vrystaat (UV). In die vakansies het sy by ’n bekende bourekenaar, Eric Grimbeeck, gewerk.
In haar derde jaar het Neels Neuhoff haar ’n pos by Vrystaat-rugby aangebied. Dit was op 26 Mei 1976 en sy is vandag nog daar.
Dit rym net dat Gerda met ’n rugbyman sou trou. Op 4 Oktober 1986 is sy en Piet von Solms getroud.
Hy is al baie jare by Vrystaat en Oud-Greys se rugby as administrateur en afrigter betrokke. Hy het self in die voorry gesak.
Hulle het nie kinders nie.

GERDA VAN SOLMS hier by die skildery wat wyle Louw Henning van haar geskilder het. Die skildery is ’n paar jaar gelede deur die Vrystaatse Sportmedia aan haar geskenk. Foto: Verskaf