Vrystaat vier Gesinsdag op Boshof
2011-06-19 12:07
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
BOSHOF. – Internasionale Gesinsdag is op 15 Mei gevier. Die jaar 1994 is deur die Verenigde Nasies as Internasionale Jaar van Gesinne afgekondig.
Hierdie dag is ’n geleentheid om die werk wat in 1994 begin is om die belangrikheid van gesinne te vier, weer te gee en die Vrystaat het op 27 Mei hierdie dag op Boshof gevier.
Die departement van gesondheid in samewerking met Age in Action, voorheen die Suid-Afrikaanse Raad vir Bejaardes, het ’n bederfdag vir bejaardes op die dorp gereël. Age in Action bestaan sedert 1956 en wil die belange en welstand van senior burgers bevorder en gesondheidsorg aan arm, behoeftige en verwaarloosde ouer persone verskaf.
Die Dienssentrumsaal by Huis Goedversorg was stampvol bejaardes uit die woonbuurte Seretse, Sonderwater en Kareehof.
Uit die dorp het opgewekte musiek gespeel en ’n feestelike atmosfeer het geheers. By hul aankoms is die gaste met ’n heerlike warm koppie sop en broodjies, wat deur Shoprite verskaf is, getrakteer.
Evangelis Gert Coetzee, deesdae ’n inwoner van Huis Goedversorg, het die verrigtinge met skriflesing en gebed geopen.
Mev. Elize Kruger het die gaste namens die beheerraad van Huis Goedversorg verwelkom en gesê dat die bejaardes die eregaste is en dis ’n dag waarop hulle net moet sit om lekker bederf te word. Sy het gesê hulle gee om vir alle bejaardes, nie net dié wat in Huis Goedversorg is nie. Sy het vertel van hul Kopano-uitreik-aksie en gesê suster Alta Knoetze het, benewens die werk wat sy in die kliniek doen, 60 punte in die dorp en woonbuurte wat sy gereeld besoek omdat daar mense is wat nie by die kliniek kan uitkom nie.
Sy het gesê dat hoewel die subsidie wat hulle van die regering gekry het vir hierdie werk met die helfte gesny is, hulle steeds poog om hierdie diens by te bring.
Me. Priscilla Kok, ’n direkteur van Age in Action, het gesê die doel van die dag is om die bejaardes te bedank vir wat hulle gedoen het en steeds in die gemeenskap doen. Sy het gesê hulle is die ruggraat van die gemeenskap en kan nie verwaarloos word nie.
Lede van die departement van gesondheid het tydens die byeenkoms ’n Pledge to My Older Patient – ’n belofte vir omgee en versorging van ouer pasiënte, onderteken.
Hulle het daarna met etlike behandelings van die gaste begin, soos die neem van bloeddruk, neem van gewig en mates, en bloedsuiker- en HCT-toetse.
Ambulansmanne het aan versorgers ’n demonstrasie gegee van die “omrol van ’n pasiënt”.
Die geleentheid is afgesluit met ’n heerlike middagete wat deur Huis Goedversorg verskaf is. Age in Action het dit geborg.
MENSE wat die Pledge to My Older Patient onderteken het. Foto: Verskaf