Van Rensburg rugbyman soos min
2010-07-28 09:27
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
’n RUGBYMAN in murg en been.
Om die “titel” te kan verwerf, moes ’n man op elke rugbygebied diep spore getrap het. Dolf van Rensburg, deesdae sakeman op Bethlehem, is so ’n man.
Hy het as speler vir vier provinsies in ’n paar posisies uitgedraf, rig nou Oudskoliere se senior spanne af en het nog tyd oor om keurder en president van die klub te wees.
Van Rensburg, wat in 1986 sy eerste proesel provinsiale rugby gekry het toe hy vir Noord-Natal se span aan die Cravenweek deelgeneem het, kan met reg sê dat hy teen die beste om ’n plek in die span meegeding het.
Sy eerste wedstryd vir die Vrystaatse span het juis gekom toe hy as bloedjong 19-jarige speler die grote André Joubert, heelagter in die Springbok-span wat die Wêreldbeker in 1995 gewen het, se skoene moes volstaan.
Dit het so gekom: Tien dae nadat Van Rensburg 19 jaar oud geword het (3 September 1988), het hy vir die Vrystaat se o.20-span in ’n voorwedstryd gespeel. Die hoofwedstryd was tussen die Vrystaat en die Westelike Provinsie.
Gedurende die rustyd is Van Rensburg van die veld af gehaal. “Jy moet vir die senior span speel,” is hy meegedeel. “Joeba het in die kleedkamer ’n maagaandoening gehad.”
Die Vrystaat het met 8-24 verloor, maar Fransie Muller, blaser van die Baai, was die tuisspan nie juis goedgesind nie. “Ons was ook bitter ongelukkig, want Goggie van Heerden het die dag sy betroubare skopstewels by die huis gelos. Hy het sewe skoppe pale toe gemis.”
Goggie se algemene spel was egter baie goed en van die koerante het later berig dat hy beter as die Springbok-losskakel van die WP, Michael du Plessis, gevaar het.
Maar dit was ’n wrede WP-span wat die dag teen die Vrystaat gespeel het. Carel du Plessis en Calla Scholtz was in die WP se agterlyn.
Miskien was dit nie so ’n lekker begin vir ’n man in sy provinsiale loopbaan nie, maar Van Rensburg het die dag getoon dat hy slaggereed is as daar op sy nommer gedruk moet word.
Hy is op 23 Augustus 1968 op Glencoe in KwaZulu-Natal gebore. Die Dolf het later gekom, vertel hy, want die seun van Louw, wat ook provinsiale rugby gespeel het, en Rina is Nicolaas Jansen van Rensburg gedoop. Sy ouens woon ná 72 jaar nog op Glencoe. Sy pa het 40 jaar vir die munisipaliteit gewerk en sy ma was aan die Hoërskool Sarel Cilliers verbode.
Van Rensburg het op skool al tekens getoon dat hy nog ’n uitblinker-sportman sou word. Hy het as atleet in veral die 200?m uitgeblink en het ook Noord-Natal se atletiekspan gehaal.
In 1986 het hy ook die Natalse Cravenweek-span gehaal.
“Ons het nie veel sport in die skool gehad nie. Jy het rugby gespeel en aan atletiek deelgeneem, maar krieket het ons nie geken nie. Jy het met planke en ’n tennisbal gespeel,” onthou hy.
Ná skool het hy Kovsies toe gekom en hy het saam met die spanne van Huis Verwoerd geoefen. Hy het net een keer vir die koshuisspan gespeel toe Tat Botha, afrigter by die Kovsies, hom raakgesien het. “Hy hoort in die Vrystaat se o.20-span,” het Tat besluit. En so was dit ook. Dolf het eers vir die B- en toe vir die A-span van die Kovsies gespeel.
In 1988 het hy die eerste keer vir die Vrystaat se o.20’s gespeel en? ook ?vir die Vrystaat se senior span wat ons hierbo beskryf het.
Vrystaat het in daardie jare ’n bruikbare o.20-span gehad. Brendan Venter, latere Bok en nou afrigter in Brittanje, en Johan Steenkamp (wyle Stoney se seun) was van sy spanmaats.
Van Rensburg sê een van die hoogtepunte van sy loopbaan as speler was toe die Shimlas die nasionale sewestoernooi in 1989 op Stellenbosch gewen het.
“Ons het ’n klompie heerlike spelers in die span gehad: Danie Anthony, Johan Stronkhorst, Sas Kasselman, Lourens Prinsloo, Frans Cronjé, Henry Honiball, Dougie Heymans en Ebert Kleynhans. Gysie Pienaar was lid van die bestuur.”
Van Rensburg se loopbaan het ’n wye draai geloop. Hy het tien keer vir die Vrystaat uitgedraf, 14 keer vir Noord-Vrystaat, 18 keer vir Oos-Vrystaat en die een keer vir Noord-Transvaal.
Hy het sy diensplig in Pretoria gedoen.
Wyle Gerbrandt Grobler was die Bulle se heelagter, maar hy is vir een wedstryd geskors en Van Rensburg het gespeel.
Hy het in sy loopbaan teen ’n klompie grotes gespeel. Wie beskou hy as die beste agterspelers?
Daar was baie, sê hy: Helgard Muller, Brandan Venter, André Joubert, Chris Badenhorst, Eben Scheepers, Carel du Plessis, Jaco Reinach, James Small en Gert Smal was almal goed. Tony Underwood, die toetsvleuel van Engeland, was ook een van die heel beste.
Peter de Haas, losskakel van die Shimlas, moet ook uitgesonder word. Sy lang en suiwer aangee was uitstekend, onthou Van Rensburg.
Die hoogtepunt van sy loopbaan was toe die Vrystaat in 1994 op Springbokpark se krieketstadion (die stadion was toe in aanbou) met 22-11 teen die Engelse toerspan van Will Carling gewen het. Nege van die Vrystaatse spelers het later Bokke geword.
Ná sy studentejare het Van Rensburg drie jaar en ses maande onderwys gegee voordat hy na Bethlehem verhuis het. Hy het Oudskoliere in elke hoedanigheid verteenwoordig. In sy 15 jaar by die klub was hy speler, keurder, afrigter en nou president.
Sy groot droom is dat die klub die Griffonsliga moet wen. Dit is harde werk, want jy doen die afrigtingswerk vir die liefde van die spel, maar jy moet ook werk om die pot aan die kook te hou.
Daar is ouens by die klub wat hom ondersteun. “At Schoombee, At Shields, Tienie Greyling, Japie van Wyk, Derek Maree, Johan van Rooyen en Henry du Toit is almal harde werkers vir die spel wat ons liefhet,” sê hy.
Oudskoliere kan daarmee spog dat hy een van die min klubs is wat sy eie klubhuis het. “Die Gensbok is ons eiendom,” sê Van Rensburg.
Hy is getroud met Elzanne Blignaut van Senekal. Hulle het drie seuns, ’n tweeling Louis en Neil (8) en Nico (5).
Die tweeling speel vir die Laerskool Jordania se o.9A-span. Albei is knap agterspelers en het al om die beurt heelagter en skrumskakel vir die skool gespeel.