Stadsaal steeds pronkstuk
2011-05-19 11:09
ROUXVILLE. – Binne is die mure met houtpanele bedek – bokant jou kop pronk die deftige staalplafon. Die boustyl is treffend en getuig van besonder goeie bouwerk. Ja, Rouxville se stadsaal lyk nog net so jonk en vars as 99 jaar gelede toe dit gebou is.
Rouxville se eerste “Stadshuis” is reeds in 1880 voltooi. Dit is aanvanklik ook as ’n skool gebruik met ene mnr. J.J. Reyneke as skoolhoof.
Die dorp het egter so gegroei dat in 1909 besluit is om ’n nuwe stadsaal te bou. Die Morton-broers van Aliwal-Noord het hierdie taak in 1911 vir ’n bedrag van R3 694 voltooi.
Op 11 Julie 1911 word die nuwe stadsaal deur die Vrystaatse administrateur geopen.
Bioskoopvertonings, godsdiens-tige byeenkomste en politieke vergaderings is in die saal gehou. Om die opvoering van toneelstukke te bevorder het wyle mnr. J.G. Pansegrouw, LPR, ’n waardevolle gordyn vir die verhoog geskenk.
In 1963, tydens die eeufeesvierings, word besluit dat die Stadsaal opgeknap en gemoderniseer moet word. Byna R10 000 word hieraan bestee.
In 1966 word die Hendrik Holtzhauzen-raadsaal langs die stadsaal opgerig. ’n Massiewe konferensietafel met swaar gedraaide pote, sowel as ’n burgemeesterstoel met ’n hoë ruglening en die dorpswapen daarop gegraveer, versier die indrukwekkende kamer. Aan die muur hang ’n antieke muurhorlosie, ’n geskenk van die Henning-familie ter gedagtenis aan wyle J.S. Henning, ’n vorige burgemeester van Rouxville.
Vandag vertoon hierdie geboue nog net so mooi – ’n ware sieraad vir die dorp.
- Volksblad